Heelheid: Mites oor genesing – “Ruk jouself reg!”
- 5 hours ago
- 8 min read

Dis nogal ironies dat dieselfde mense wat Sondae “Genade onbeskryflik groot” in die kerk sing en in wese bely (bloot deur oor die drumpel van die kerkgebou te stap) dat ons afhanklik is van God en genade – letterlik: nie alleen kan nie – ook die mense is wat Maandag tot Vrydag by die werk en by die huis vir die mense “onder” ons leer om hulle man te staan en Saterdag langs die sportveld vir ons kinders te skree, “Sluk jou trane! As jy wil huil, sal ek vir jou iets gee om oor te huil. Ruk jouself reg! Moenie die knie buig nie! Staan op! Ons Conradies laat nie vir ons onderkry nie!” Ek het gister gehoor van mense wat hulle kinders geld belowe as hulle sal ophou huil. Ek weet hoeveel kinders hoor elke dag, “Gedra jouself.” Ek wonder hoeveel hoor, “Jy word gedra.” Hoe anders sou dit in ‘n kind, eintlik enige mens, se siel klink as iemand in plaas van “Het jy jou vandag gedra?” sou vra: “Wie’t jou vandag gedra?”
Ons aanbid “self-made” mense. Want ons glo heimlik: God help net dié wat hulleself help. En in ons samelewing eindig seuntjies wat ‘n sosiopaat vir ‘n ouer gehad het, heel dikwels op in een van twee plekke: hoog op dwelms of hoog op mag. Op straat of op die troon. Doodgedrink of die president van die magtigste moondheid op aarde … true story …
Iemand het gesê, “The main preoccupation of society is to keep society sick. You became president of the lunatic asylum and you’re proud of it.”
Ek dink ons sal in ‘n veel gesonder samelewing – ‘n heler ekosisteem – leef as ons by die AA kan leer. Stap 1: Ek erken dat ek magteloos is. Maar ons hang eintlik meer ‘n DD-houding (lees: borsmaat) aan: Stoot jou bors uit en huil soos ‘n wenner … aan die binnekant.
‘n Ma vertel my nou die dag hoe haar vyftienjarige seun op die oomblik sukkel met angs en heel geskud is deur die lewe en tans so bewus is van die werklikheid van die dood om hom. Terwyl sy my vertel en ek aan die een kant diep empatie het met haar wonderlike seun en die gevolge daarvan vir hulle gesin – eksamens wat gemis word, mediese onkostes en ‘n heersende onrustigheid in die huis – kon ek nie help om ook ‘n diep vrede oor hom te ervaar nie – die vrae wat hy tans vra en die donker nag van die siel waardeur hy tans gaan, moet eintlik ons almal s’n wees. Dis eintlik die enigste verstandige (“sane”) reaksie op ‘n waansinnige (“insane”) wêreld. Sy oorlewingsdans is eintlik net al veel vroeër as meeste mense s’n besig om te verander in ‘n heilige dans – ‘n ander manier om die eerste en tweede helfte van mens se lewe te beskryf. In die eerste helfte word al die energie gewoonlik ingespan om houer te bou – die fokus is op prestasie, lere klim, besittings en ervarings versamel. Tydens die tweede helfte verskuif die fokus van houer na inhoud. Alhoewel dit lyk of baie mense tot die dag van hulle dood in die eerste helfte van hulle lewe vassit. En sommige al reeds as kinders of tieners anders begin dans. Jy móét teleurgestel word. Jy móét die gebrokenheid van die sisteme en jou verhoudings en jouself sien. Juis dit – die hartseer, ontnugtering, magteloosheid, leegheid, intellektuele konflik, geestelike verveling, selfs om jou geloof soos jy dit geken het, te verloor – kan jou teruglei na jou heelheid. As jy nie “game” oorhet nie, kan God die speelveld betree. As jy nie meer weet hoe om jouself te (ge)dra nie, kan jy gedra word. Niks sê dit so duidelik soos die bergpredikasie nie:
“You’re blessed when you’re at the end of your rope. With less of you there is more of God and his rule.
“You’re blessed when you feel you’ve lost what is most dear to you. Only then can you be embraced by the One most dear to you.
“You’re blessed when you’re content with just who you are – no more, no less. That’s the moment you find yourselves proud owners of everything that can’t be bought.
Dit wat die botoon van gebrokenheid het, het dikwels die ondertoon van heelheid.
‘n Vrou in die Bybel wat die toonbeeld van gebrokenheid was – op ‘n afstand sou sy seker as unhinged afgemaak is in vandag se tyd – was Hanna. Hanna beteken “genade” of “guns”, maar hoe anders vertoon haar lewe nie. Ten spyte van haar man se liefde, voel sy leeg en hunker sy na ‘n kind. Die Bybel sê “’n manlike kind” en vir ons mag dit dalk vreemd wees. Sy’s nie net kinderloos nie, sy’t nog kieskeurig ook. Hanna ervaar haar onvermoë om swanger te raak nog erger omdat Peninna, haar man se ander vrou, haar spot en verneder. Elkana merk die wrok wat Hanna koester, want met die woorde, “Waarom huil jy?” vra hy, in Hebreeus eintlik: “Waarom is daar kwaad in jou hart?”
Hanna gaan na die tent van aanbidding en stort haar hart voor die Here uit. Sy het geween, bitterlik geween. Nie net oor haar kinderloosheid nie, maar oor die bitterheid wat sy in haar siel ervaar het. Haar diepste ellende spuit eintlik daaruit voort. Daar waar sy eens die vreugde van die Here ervaar het, vind sy nou wrewel, angs en wedywering. Saam met die sosiale skande en haar gebroke gees. Een vertaling sê Hanna was geskud in haar binneste (“shaken to the core”). Sy kon haarself nie regruk nie. Al wat sy “reg” gedoen het, was dat sy geweet het waarnatoe om te draai met al haar stukkies. En hoe goed ken God nie die hart van sy kind nie! God sê nie, “Hey girl, maak daai bolip styf, sit daai hand op daai heup en smiiiiile” nie. Hy word die betekenis van haar naam vir haar en gee dit vir haar terug. Nie deur daar en dan ‘n wonderwerk te doen nie. Maar deur Sy gees wat haar eerste woorde in haar mond lê: “Here, Almagtige” of anders gestel, “Here van die leërskare.” In teenstelling met almal om haar – Peninna se spot, Elkana wat haar probeer troos met sy woorde, Eli wat haar “uitmekaar val teen God se bors” interpreteer as dronkenskap – IS God “net” (classic God, bos wat brand en brand en nooit uitbrand nie se God). In Sy arms, teen Sy bors. “Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en Sy aangesig vir Hom nie verberg nie, maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp.” (Ps. 22:24)
Of dink aan Dawid se woorde in Psalm 51: “Die offers van God is ‘n gebroke gees. 'n Gebroke en verslae hart sal U nie verag nie.” In Hebreeuse denke is gebrokenheid nie die teenoorgestelde van geloof nie; gebrokenheid is dikwels die plek waar geloof die diepste word.
God nooi Hanna uit om haarself op Hom te verlaat. Hy beveel haar nie om op te hou kla en bietjie selfbeheersing toe te pas nie. God vertel nie vir haar hoe belaglik dit is om te vra vir ‘n “manlike” kind en dat vroue duisende jare later eerder sou saamspan en mekaar ondersteun rondom infertiliteit en dat sommige selfs uit vrye wil sou kies om nie kinders te hê nie. Konteks is alles, né. Maar konteks is niks sonder ‘n verhouding en intimiteit nie. God ontmoet haar presies waar sy is.
Ons, duisende jare later, spring so maklik na die teleskoop – die groter prentjie – voor ons die mikroskoop – die mens voor ons en die oomblik waarin hulle tans verkeer, die dieper angs in die siel – erken en raaksien. As kinders deur ‘n liefdesteleurstelling gaan wat vir hulle voel soos die einde van die wêreld, is volwassenes so geneig om dit klein te maak en te verskraal in die naam van “kalwerliefde” of muisneste. “Daar’s nog baie visse in die see (snaaks hoe alles dieremetafore is) / Jy kan beter doen as dit / Man up / Ruk jou reg” neem jou oombliklik uit teenwoordigheid vir die kind voor jou. En ons weet: “kalwerliefde”en eerste liefdes het al vele tieners hulle eie lewens laat neem omdat die klip in hulle gemoed te bitter, te swaar was om alleen te dra.
Die teks in 1 Samuel 1 erken die realiteit van Hanna se lyding. Die Hebreeuse teks wys dat God nie die bitter siel wegstuur totdat sy sterker word nie. Hy ontvang haar juis in haar bitterheid. 'n Belangrike Hebreeuse beginsel is dat waarheid voor herstel kom. Ware genesing begin wanneer die waarheid van die wond erken word. Die "regruk"-mentaliteit vra dikwels dat mense sterker moet lyk as wat hulle werklik is. Om ten alle koste aan te hou om voor te gee as om oor te gee. Hanna doen die teenoorgestelde. Toe Eli haar beskuldig van dronkenskap in die tempel van die Here, antwoord sy: “Nee, my heer, ek is 'n vrou beswaard in my gemoed: wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my siel voor die aangesig van die Here uitgestort.”
En dan volg die mooiste van die hele skrifgedeelte vir my dan ‘n paar verse later: “… die vrou het toe daar weggegaan en sy het geëet en haar aangesig was anders.” Hanna se aangesig – ‘n Bybelse woord wat dieper en meer as net gesig beteken, dis eintlik die teenwoordigheid agter, in en om haar voorkoms – verander selfs nog voor sy swanger geraak het. Haar genesing begin voor die wonderwerk plaasvind. Die Hebreeuse narratief impliseer dat iets reeds in haar binneste gebeur het. Ware genesing is nie, "Ek voel beter omdat my probleem weg is.", maar: "Ek het my pyn aan God oorgegee en ek dra dit nie meer alleen nie." Miskien ook selfs ‘n beter alternatief vir botox om “minder moeg” en meer “reggeruk” te lyk. Giet jou siel uit voor die aangesig van die Here. Die wonder van hierdie storie is nie eerstens dat Hanna 'n seun ontvang nie; dit is dat sy ontdek dat sy haar hele gebroke siel voor God kan uitstort en steeds deur Hom ontvang word.
Hanna se keerpunt is nie in selfbeheer nie, maar in oorgawe. Dit is die kern van ware genesing: nie om jou pyn te ontken nie, maar om dit in die teenwoordigheid van God te bring. Hanna is nie genees die oomblik toe sy haarself regruk nie; sy is genees toe sy ophou voorgee sy is reg. Sy is getref deur genade.
“Do you know what it means to be struck by grace? It does not mean that we suddenly believe that God exists, or that Jesus Christ is the Saviour, or that the Bible contains the truth. To believe that something is, is almost contrary to the meaning of grace. Grace also does not mean that we are making progress in our moral self-control. This may be the fruit of grace, but it is not grace itself.
Grace strikes us when we are in great pain and restlessness. It strikes us when we walk through the dark valley of a meaningless and empty life. It strikes us when we feel that our separation is deeper than usual, because we have violated another life, a life which we loved, or from which we were estranged. It strikes us when our disgust for our own being, our indifference, our weakness, our hostility, and our lack of direction and composure have become intolerable to us. It strikes us when, year after year, the longed-for perfection of life does not appear, when the old compulsions reign within us as they have for decades, when despair destroys all joy and courage. Sometimes at that moment a wave of light breaks into our darkness, and it is as though a voice were saying: “You are accepted. You are accepted, accepted by that which is greater than you…Do not try to do anything now; perhaps later you will do much. Do not seek for anything; do not perform anything; do not intend anything. Simply accept the fact that you are accepted!” If that happens to us, we experience grace.”
Paul Tillich
Siel uitgegiet, gesig in die stof, grond onder die naels, dronk en buite beheer in die oë van dié wat weet hoe om hulself te gedra. Genade wat die wêreld se wiskunde en die lewe se logika op sy kop draai. Eers dan sal ons weet “Amazing Grace” is nie ‘n liriek nie; dis ‘n lifeline.
- Frieda van den Heever




