top of page

Word wie jy is…jouself


Wil jy weet wat is fout met jouself en die wêreld? Hier is ‘n Boeddhis se raad: Kyk na ‘n groepsfoto. Wat leer dit jou? As jy soos ek is, kyk ek nie na die kwaliteit van die foto of hoe dit met die groep gaan nie, maar na myself.


Dit is menslik en natuurlik en het te doen met ‘n onbewustelike geluksprogram wat ons dryf om aanvaar te word.

Jy kan daardie program ego noem, of wat jy doen om “naam te maak”. Bybelse taal noem dit die ou-mens, vlees, of die naam wat jy het. Daarmee is niks fout nie; ons het dit nodig om te voel ons is iets of iemand. Die fout kom eerder wanneer ek net myself kan sien. Dit is seker die verskil tussen ego en egoïs. Die ego is baie nodig - ons aanvaarding, sekuriteit en invloed laat ons voel ons is iets, maar as dit alleen gebruik word om myself te sien dan kry ego ‘n nare kind: Narsis wat net selfsugtige liefde ken.

Die oplossing hiervoor is nie ‘n nuwe selfbeeld of nuwe godsdienstigheid nie, maar ‘n ervaring van jouself of jou identiteit(naam) sodat daar ‘n honger en ‘n begeerte kan kom na ‘n beter weergawe van jouself wat jy in God kry.

Ons gesels Sondag oor hierdie pad. Dit is moeilik en vra tyd. Dit vra dat jy jou ware naam by God moet hoor. Jy het twee name – watter een leef jy? Abram, Sarai, Jakob, Saul, Simon kon dit hoor en kry nuwe name. Ek vermoed die rede hoekom Didimus ook Thomas is, of Matteus wat Levi genoem word en baie ander karakters in die Bybel, dieselfde ervaring gehad het.

Abram beteken “verhewe vader, hy word Abraham “vader van die nasies”.

Duidelik kyk hy anders na die groepsfoto!



- Deur Theo Geyser

bottom of page