top of page

Word wie jy is... deur God



Die begin van ‘n nuwe jaar is vir my ongelooflik lekker. Die meeste mense is meer positief en loop rond met ‘n verskuilde geloof binne hulle dat daar dalk ‘n beter weergawe van hulleself in 2022 kan wees. Daarom begin die meeste met nuwe oefen-en-eetprogramme, beter kerkbywoning, meer diens en opoffering en die lys hou nie op nie.

En, daardie gevoel van ‘n beter weergawe is nie verkeerd nie, dit kom van God.

Wat soms wel verkeerd is, is ons pogings om ‘n nuwe weergawe van myself te kry. Jakob het probeer om ‘n beter mens te word deur meer vrygewig te word, duisende rande en besittings weg te gee, ander se guns te koop, en meer toegewyd te wees. Elke nuwe jaar het hom seker weer hoop gegee dat hy hierdie jaar dalk die familietwis kan oplos. Alles het net erger geword.

Totdat iets gebeur wat hy nie verwag het nie. Hy word vasgevat deur ‘n engel wat hom help om die grootste sprong in sy lewe te maak deurdat hy in God se gesig gekyk het. “Jakob het die plek Pniël genoem, want hy het gesê: “Ek het God in die gesig gekyk.” Vs 30

Die vraag is dan: hoe sien jy God se gesig? Op ‘n dag teken ‘n klein dogtertjie God se gesig. Die mamma is onsteld en sê: Jy kan dit nie doen nie, want niemand weet hoe Hy lyk nie! Die dogtertjie antwoord toe: Wag dat ek klaar is, dan sal jy weet hoe God lyk!

As ons soos die ma is, sal ons tevrede moet wees met wat ons spekuleer oor wie God moontlik kan wees en tevrede wees met al die beelde wat aan ons gegee word. As ons soos die dogtertjie is kan ons uit oortuiging met God leef, omdat ons Hom gesien het.

Die gesig van God is dalk nader as die beelde wat ons probeer skep van Hom. Jesus het op ‘n dag vir Fillipus geantwoord toe hy God wou sien: “As jy my gesien het, het jy God gesien”. Die een vertaling lees: "You can look at all you have seen and heard and still ask that question? To see certain things is to have seen the Father!" Watter dinge (certain things) wys vir jou God? Dis eenvoudig: As die blomme blom, en die wingerd sy vrug dra, dan weet ons dis somer.

Ons gesels die volgende paar weke oor hoe ons kan word wie ons alreeds is in God!


Kom kuier saam hierdie Sondag om 10:00 by Protea Hotel met ons In Persoon diens. (Ons kom weer elke Sondag bymekaar.) Jy is ook welkom om ons korter In Gemeen Aanlyn belewenis te kyk om 08:30.


- Deur Theo Geyser

bottom of page