top of page

Wil jy gesond word?

ree

“There are two ways to live your life. One is as though nothing is a miracle. The other is as though everything is a miracle.” - Albert Einstein


Ons vraag hierdie week kom uit Jesus se mond en word gevra vir ‘n sekere man wat by die bad van Betésda sit en wag op ‘n wonderwerk. Rondom hom lyk dit soos ‘n kongres vir siekes – blindes, kreupeles, lammes; “’n groot menigte” sê die Woord. En dan: “’n sekere man was daar, wat agt-en-dertig-jaar aan sy siekte gely het. As dit ‘n film was en ons het ‘n wye skoot gesien hiervan, sou ons hom nie eens raaksien nie. Maar vanuit Jesus se oog wat inzoom, word dit ‘n close-up. Jesus sny die small talk en vra, “Wil jy gesond word?”


Wat ‘n voor die hand liggende vraag! As die “kamera” net sy lyf sien, soos wat kameras maar maak.


Mens sou dink die man antwoord onmiddellik na hy sy oë gerol het met ‘n “Ja (duh)”. 

Maar nee. Elizabeth Johnson beskryf hierdie "sekere" man as “perhaps the least willing and the least grateful of all the people healed in the Bible.” Jesus vra hom of hy gesond wil word en in plaas van ja of nee of ja, antwoord hy so: “Ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan ‘n ander een voor my in.” Eerstens, kom ons oordeel maar nie: chroniese siekte kan ‘n mens se wil en wete ordentlik verweer. Tweedens, bietjie agtergrond oor die water wat roer: in ‘n vers wat in heelwat vertalings uitgelaat word en soms as voetnota verskyn (want: verregaande vir die rasionele brein) lees ons die menigte siekes wag op die roering van die water. Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword aan watter siekte hy ook al gely het.


Een “hit”, duisende “miss” … dit ruik nie vir my soos genade nie, dit klink soos ‘n casino. Tog ironies dat Betésda beteken “Huis van Genade” of “Huis van Barmhartigheid”. Eintlik is dit die woord hesed wat “onverskrokke liefde” en “troue barmhartigheid” beteken. En so sit en wag hulle op die plek van genade, maar ervaar dit nooit nie. 38 jaar lank, vir die sekere een in die skare wat ons hoogs onwaarskynlike hoofkarakter in die toneel word. Seker nie toevallig dat die Israeliete ook 38 jaar omgedwaal het in die woestyn, na die eerste twee jaar nie (Deut. 2:14). ‘n Verlammende tyd van wag en onafgehandelde verlossing. Soos Israel, kon hy ook nie in die beloofde land ingaan nie. Hy was vasgevang tot God se tyd aangebreek het. Of Die Een wat alle tyd, plek en omstandighede uithou na Liefde se omhelsing.


Tot Jesus – die visarendjie van God, wat in ons benoude vlees kom induik het en self die water kom roer het – instap. Die vleesgeworde hesed van God. En ek herroep hierdie woorde twee hoofstukke later …


Jesus het gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.


Joh.7:37-38


En een van my gunsteling encounters in die Bybel ‘n hoofstuk vroeër:


Die vrou sê vir Hom: Here, U het nie eens ‘n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water?

Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.

Die vrou sê vir Hom: Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie.


Joh. 4:11-15


Die priester Fr. Michael Marsh skryf, “The pool of Bethesda is an illusion. It deceives us into believing that life is to be found outside ourselves. It tricks us into living an ‘as soon as’ kind of life – as soon as I get to the water… my life will be better, my problems will be fixed."


Sodra dít gebeur, sodra dát gebeur. 

Sodra ek my graad kry …

sodra ek 'n lewensmaat vind …

sodra ek ophou drup van kinders wat my droogsuig … 

sodra ek die verhoging kry …

sodra ek op vakansie kan gaan …

sodra my skip inkom …

sodra ek aftree …

sodra die water vir my roer …


“The problem with this kind of thinking,” skryf Marsh, “is it puts our life on hold as we sit on our mats, imprisoned by the circumstances of our life.” 


Die vonnis is so groot en verlammend dat wanneer Jesus die vraag vra (en kom ons hoor dit een keer in die Engels), “Do you want to be made well?” die ou net verskonings het oor hoekom hy nog nie wel is nie. Hy is so gefokus op hoekom hy nie in die bad kan kom nie dat hy vergeet wat God binne-in hom kan doen. 


Hy staar hom so vas in die hoe dat hy vergeet van die wie.

Sy lens is so gefokus op sy lyf dat hy vergeet van sy gees.

Sy omstandighede is so oorweldigend dat hy nie sy instandighede voor oë hou nie.


Hierdie storie herinner ons dat heelheid of genesing of “wel wees” nie gekoppel is aan omstandighede nie, maar instandighede. In die middel van ons omstandighede ontmoet Jesus ons. Of dit nou ons beste en/of mees gebroke self is. Hierdie storie van genade leer ons dat genesing nie hoofsaaklik afhang van hoeveel geloof ons het nie – hierdie man het nie eens geweet dis Jesus met wie hy praat nie – maar van God se getrouheid. Not our faith, but God's faithfulness. Jesus kom wys hierdie man dat Hy hom raaksien in ‘n see van mense. Dat hy nie net ‘n druppel in die oseaan is nie, maar die hele oseaan in ‘n druppel (dankie, Rumi).


Jesus wys dat dit nie die water is wat uiteindelik genees nie, maar die lewende Woord (“strome lewende water”). Hy spreek woorde van genesing en lewe en opstanding. Die wonderwerk is nie net ‘n once-off nie; dis aangaande. Soos God se werk. Wat nooit ophou nie. Nie eens op die Sabbat wat die Jode in hierdie storie so vies maak nie. Een handleiding wat ek geraadpleeg het, sê dit so mooi. God se werk is ceaseless EN effortless. Easeful. Vol ease. Tussen al hierdie mense met dis-eases


"Staan op, neem jou bed en wandel." 


Jesus ontmoet hom en genees hom, maar hy moet nog steeds sy bed en sy storie met hom saamdra - as getuienis. As wit(h)ness. Die verskil is nou: dit wat hom gedra het, dra hy nou. Hy dra nou sy storie (sy seerkry, sy krake); sy storie dra hom nie meer nie.


So, hier is ons. In 2025. Ek dink dis veilig om aan te neem niemand wat hier lees is sonder skete of sonde nie. Dis ook veilig om aan te neem dat niemand wat hier lees dag in en dag uit by ‘n bad sit en wag vir ‘n engel om die water te roer nie. Of is dit?


Maar die vraag bly: 


Wat is jou “sodra”? 

Wat moet jy so dra soos hierdie man? 

Wil jy gesond word? 

Is jou hoop op die bad – jou lewensituasie, jou omstandighede – 

of in Christus – jou lewe, jou instandighede?



Frieda van den Heever


bottom of page