top of page

Werk: Teen watter prys?




Prediker het dit raakgesien – werk is 'n vreemde ding. Dit kan jou seën, maar dit kan jou ook vervloek. Ons is geneig om die waarskuwings oor werk in die Bybel te ignoreer. Bloot omdat ons kultuur ons verblind. Werk is die enigste verslawing wat binne ons kultuur  aangemoedig en selfs beny word.

 

Vandag is dit 'n statussimbool.

 

Maar die prediker sal jou waarsku teen hierdie statusimbool wat jy nastreef. “Wat kry die mens dan vir al sy moeite en geswoeg onder die son? Al sy dae is smart, sy werk is kommer; selfs snags vind sy gedagtes nie rus nie. Ook dit is tevergeefs.” Prediker 2:22–23

 

Ons betaal met ons liggame - daardie heilige tempels wat God aan ons toevertrou het. Ons betaal met ons emosies - ons harte word hard en afgestomp. Ons betaal met ons gees - God se teenwoordigheid word verdryf deur die geraas van ons bedrywighede. En ons betaal met ons gedagtes - daardie kreatiewe vonk wat ons as beelddraers van God ontvang het. Selfs nadat ek ek gewerk het, hou my gedagtes aan werk sonder enige rus.

 

Rabbi Abraham Heschel het iets pragtig gesê: werk is 'n "katedraal van tyd." Terwyl ons gewoonlik katedrale van klip bou, bou God katedrale van tyd. Hy reken dat die mens nie net ‘n bouer van ruimte is nie, maar ook ‘n  bewaarder van tyd is. Elke werkdag is 'n heilige ruimte wat gebou moet word vanuit rus en moet lei tot rus. Wanneer ons werk vanuit hierdie heilige bewustheid benader, word dit 'n brug - 'n verbinding tussen ons en die ewige. Maar sonder rus word werk 'n muur. Mure skei, brûe verbind. Werk sonder rus bou mure tussen ons en God, tussen ons en ons geliefdes. Deur afwesig te wees - fisiek teenwoordig maar geestelik elders - bou ons mure. 

 

Die Brugbouer teenoor die Muurbouer.

 

Waarom bou ons hierdie mure? Roger Ebert het dit raakgesien: "I have filled my life so completely that many days there is no time to think about the fact that I am living it." Ons vul ons lewens so vol dat daar geen ruimte is om werklik te leef nie.


Ons moet die grootste deel van ons wakker lewens aan werk spandeer. Dit behoort vir ons iets te sê, naamlik dat werk die hoofweg moet wees waardeur God wil hê ons moet reis na die dieper dinge.

 

Ons gesels Sondag oor die hoe.

 

"Dit is ‘n gawe van God as iemand eet en drink en die goeie geniet van al sy arbeid." - Prediker 3:13  


“‘n Hand vol rus is beter as twee hande vol geswoeg en gejaag na wind.” - Prediker 4:6

 


- Theo Geyser


bottom of page