top of page

Waters van Rus

ree

As kind het ek gedink Psalm 23 lees: “Hy lei my na waters waar vis is.” Dalk het die filter in my ore die dominee se woorde verdraai. Dit is vandag nog my geliefde frase wat ek elke keer murmereer wanneer ek gaan visvang. Ek het wel later geleer dat Ps 23 lees na ‘waters waar rus is’. Dit was nie vir my inspirerend nie. Watter kind wil nou rus? Dis vir ou mense wat moeg is.


Wanneer jy ouer word is die ‘n frase wat jou nie sal los nie. Daar is ‘n verklikker binne ons wat ons gereeld herinner en uitnooi na ware rus. Die beeld in Ps 23 is mooi. Die Herder neem jou na waters toe wat jy broodnodig het en wat jou dors kan stil.



Ek wil Sondag graag iets deel van ons Skaaptrek Camino – ’n ongelooflike reis saam met ’n klomp InVia-vriende, waar ons sowat 30 km per dag agter skape aan gestap het, van Boesmanland na die Hantamberge. Elke oggend en aand het Wium vir ons verskillende vertalings van Psalm 23 gelees. En dit was merkwaardig hoe daardie bekende woorde in die konteks van stofpaaie, herders en skape nuwe lewe gekry het.


Ek het besef: Dis een ding om Psalm 23 te lees… Maar dis iets heel anders as Psalm 23 jou begin lees! Jy word gekonfronteer met vrae: Waar is jou waters van rus? Wie lei jou daarheen? Loop die Herder regtig voor, of dink jy Hy jaag jou agterna? Drink jy nog van daardie waters, of het jy geleer om dors te bly en net aan te gaan?



Jesaja, net soos Jesus en baie Nuwe Testamentiese skrywers, gebruik water as beeld van die innerlike lewe. In Jesaja 57:20 lees ons: “Maar die goddeloses is soos die onstuimige see, want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi modder en slik op.”


Wat ‘n beeld!



Wat gooi jou waters op? Wanneer ons innerlike wêreld onstuimig is — stormagtig, ongeanker — dan word ons rus ontwrig. Uiterlike rus waarborg nie innerlike rus nie.

Jou liggaam vra dalk na 'n vakansie, maar jou hart vra na 'n Herder.



Die Herder lei jou na ‘n plek waar jy weer kan asemhaal. Waar jy weer kan rus. Waar jy weer kan drink van wat werklik lewe gee.



Sondag gesels ons oor hoe die Here jou lei na daardie water.



"Voorwaar, ek het my siel tot rus en stilte gebring soos ’n gespeende kind by sy moeder; soos ’n gespeende kind is my siel in my." Psalm 131:2


“Contemplation means rest, suspension of activity… withdrawal into the mysterious interior solitude in which the soul is absorbed in the immense and fruitful silence of God.”

Thomas Merton



“The soul speaks its truth only under quiet, inviting, and trustworthy conditions.”

Parker Palmer



- Theo Geyser


bottom of page