top of page

Wat sy kon, toe sy kon



So paar weke gelede het my tannie vir my hierdie woorde gestuur om my te bemoedig in ‘n tyd wat ek gevoel het ek is “agter” met alles in my lewe en dat wat ek doen bloot eenvoudig nie genoeg is nie. Dit het gevoel my lyf kort twee hande, my hande tien vingers, my sewe dae nog sewe, elke dag nog vier-en-twintig uur. My moeg was moeg. Sy sê toe sy wil hierdie woorde leen van my oumagrootjie se grafsteen af, wat dit weer loop leen het by Markus se evangelie wat dit loop haal het uit Jesus se mond.


“Wat sy kon, het sy gedoen …”


Die nuwe vertaling sê: “Sy het haar allerbeste vir My gedoen” en ek kon nie glo dat my liggaam so ‘n tasbare reaksie daarop sou hê nie. Ek het liggies begin bewe, toe die trane voel brand agter my oë en toe ‘n diep asem iewers gaan haal. Asof dit presies en al is wat ek nodig gehad het om te hoor. Iemand (Jesus?) wat vir my sê my beste is genoeg. ‘n Sug van verligting. Van genoegdoening. Is dit nie die mooiste vertaling van die woord contentment wat ons so sukkel om in Afrikaans te beskryf nie?


Jesus sê hierdie woorde van ‘n vrou uit Betanië wat hom kom salf met kosbare, duur nardussalf. Sy kom na die tafel. Sy kom van anderkant die grense. Sy kom asof sy gestuur is. Sy kom asof sy hier hoort. Sy kom asof haar hele lewe gedistilleer is tot hierdie een gebaar: lig, breek, gooi. Sy kom sonder woorde en tog basuin sy die boodskap uit – priesterlik en profeties – soos sy Jesus bedien dae voor sy dood.


Jesus se goedkeuring, of stempel van genoegdoening aan die vrou van Betanië, staan lynreg teenoor die mense se verontwaardiging. Die gebeurtenis staan ook net mooi tussen die owerpriesters se plan om Jesus gevange te neem en Judas se plan om Jesus te verraai. 'n Stukkie skoonheid tussen wraak en gierigheid. Behalwe dat Jesus se eie mense uitvaar teen haar en haar balsem.


Wat mis hulle? Wat mis ons?


In die kerk, soos in die res van die samelewing, is ons geneig om te dink skoonheid en genade is geskei van en ondergeskik aan geregtigheid en sorg. Soos Jesus se geselskap daardie dag dink ons dit wat kreatief of kunstig is, is 'n luukse, 'n bykomstigheid. Jesus stem nie saam nie: “Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie oor die hele wêreld verkondig word, daar sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot 'n gedagtenis aan haar.”


Blessing of Balm


When we see

the body of Christ

still broken in this world,

may we meet it

with lavish grace

and pour ourselves out

with extravagant love.

Jan Richardson


Wat is jy bereid om te “vermors” op Jesus?

- Deur Frieda van den Heever

bottom of page