top of page

"Wat soek jy?"



Waarom vra Jesus die eerste twee dissipels: Wat soek julle? God weet tog immers wat ons soek. Dit is presies die punt. God weet dit wel, maar ons weet nie altyd wat ons soek nie. Wat ons soek is deel van ons geskapenheid, ons sal altyd soek en hunker en verlang. Indien ons engele was, dan was hierdie hunkering eenvoudig, skoon en allesverterend gerig op God. Maar ons is mense, en ons instink, en verlanges is meer gerig op die aarde. Ons smag eerder na mense, dinge, goed, geld, sukses. Daardie verlanges lyk op die oog af nie baie heilig nie. En hier kom die groot probleem: Ons dink dat al ons erotiese en materialistiese begeertes trek ons weg van God en ek moet hierdie begeertes opgee sodat ek net God kan begeer. Dit is soos 'n groot geveg met die duiwel binne ons.

Dit is ‘n baie bekende gedagtegang in die kerk, maar baie gevaarlik. Hoekom?

Alles wat mooi en aantreklik is, kom van God. Skepper van verlanges wat jy net in God kry. Elke verlange op die ou end is eintlik 'n verlange na God. En hier is die probleem: Ons verlang en begeer God maar weet nie dat daardie verlange na Hom is nie! Daar is niks fout met verlanges nie, maar wel met misplaaste verlanges. Elke obsessie is die roepe en uitnodiging om God alles te maak in ons verlanges.

Ons gesels Sondag oor hoe ek nader kan kom aan wat ek werklik soek. Ons gaan kyk na die eerste twee dissipels wat ons help om bekering beter te verstaan. Bekering het meer met jou verlanges te doen as wat dit met jou korrekte geloof te doen het. Die regte verlanges, bring die regte geloof in ons lewe.


Alles wat soek is net ligte skadu, refleksie van die een wat ons regtig soek! Glo jy dat God meer aantreklik is as ‘n superhero? Slimmer as jou professor? Mooier as die mooiste skildery en meer eroties as die grootste sekssimbool op aarde?


Alles wat aanloklik is, en wat ons soek, is in God – net in ‘n baie ryker, mooier vorm...



- Deur Theo Geyser

Comments


bottom of page