Wat maak genade so onbeskryflik?
- inviagemeente
- Jun 12
- 3 min read

"I'm telling you to love your enemies. Let them bring out the best in you, not the worst. When someone gives you a hard time, respond with the energies of prayer, for then you are working out of your true selves, your God-created selves. This is what God does. He gives his best - the sun to warm and the rain to nourish - to everyone, regardless: the good and bad, the nice and nasty.’" Matt 5:44-45 (Msg)
Philip Yancey se boek "What is so Amazing about Grace" is ‘n moet lees! As joernalis benader hy genade nie as teoloog nie, maar as iemand wat stories vertel – en stories het 'n manier om waar die abstrakte faal, die konkrete waar te maak.
Hy begin met 'n verhaal wat soos 'n splinter in die siel bly steek: 'n maatskaplike werker in Chicago wat met 'n prostituut praat. Sy is haweloos, siek, desperaat – een van daardie mense wat deur die krake van ons samelewing geval het. Toe hy vra of sy al ooit na 'n kerk gegaan het vir hulp, kom haar antwoord soos 'n klap:
"Ek voel al klaar vreeslik oor myself. Hulle sal my net nog slegter laat voel."
Hierdie enkele sin draai alles op sy kop. Dis juis hierdie hartverskeurende teenstrydigheid wat Yancey uitlig: In Jesus se tyd het die gemarginaliseerdes — die gebrokenes, die sondiges, die uitgeskotenes — Hóm gesoek. En gevind. In Hom was daar nie oordeel nie, maar ‘n feesmaal. Nie afstand nie, maar aanraking. Hoe dieper die desperaatheid, hoe dieper die aanvoeling dat Hý genade is.
En tog... in ons kerke, in ons “georganiseerde geloof,” hoor die siele van mense nie altyd daardie uitnodiging nie. Te dikwels klink daar eerder die stem van prestasie: Word beter, probeer harder, wees meer geestelik. Maar daardie soort godsdiens genees nie skaamte nie. Dit gee nie rus nie. Dit los jou met ’n steeds dikker masker en ’n steeds dieper moegheid. Jou verlede sal nogsteeds aan jou kleef.
Die wesenlike ironie van godsdiens is dit: sodra ons dink ons het genade “verwerf”, het ons dit dalk reeds verloor. Want genade kan nie verdien word nie. Dis nie ’n beloning nie. Dis ’n geskenk. En jy kan dit slegs ontvang met leë hande.
Hier lê die hart van die saak.
Ons leef in ’n wêreld waar waarde gekoppel word aan produktiwiteit—waar doeners beloon word. Maar in God se wêreld geld ’n ander logika: waarde kom nie uit jou werke nie, maar uit jou wees. Maria het dit verstaan. Sy het gaan sit. In stilte. Leeg. Passief. Sy het geluister. En daardie luister was haar grootste daad.
Martha het gewerk—goed bedoel, ywerig, verantwoordelik.
Maar sy moes self leer: jy is nie aanvaar omdat jy doen nie; jy doen vanuit aanvaarding.
Wanneer jy jou identiteit in genade vind, begin jy anders werk.
Nie om God se guns te wen nie, maar omdat jy reeds daarin rus.
Dis ‘n ander manier van leef.
Dis ‘n ander manier van kyk.
Dis die pad van genade—onbeskryflik groot.
"Grace means there is nothing I can do to make God love me more, and nothing I can do to make God love me less. It means that I, even I who deserve the opposite, am invited to take my place at the table in God's family." Phillip Yancey
- Deur Theo Geyser