top of page

Wat jaag jou? O, genade!

23 minutes ago
3 min read


Een oggend vertel ek vir een van ons katte ’n vreemde storie: Sy was eers ’n skoenlapper, maar toe spin sy haarself in ’n kokon toe en kom uit as die mooiste wurm wat daar is.


Miskien is dit hoe die storie van genade ook baie keer kan klink. Asof dit van jou ’n wurm (of seker eintlik ’n ruspe) maak om begenadig te wees. Miskien ’n geliefde ruspe, soos my kat, van wie ek nooit iets leliks sal dink nie, maar nogtans, nie ’n vlinder nie.


Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. 2 Korintiërs 4:7


Ek is dikwels iewers tussen twee uiterstes: Ek kan genade gratis kry, maar ek mag dit nie geniet nie. Of: Ek kan genade geniet, maar ek moet dit darem net waardeer ook. Beide wil genade laat klop. As dit nie klop nie, draai ek liewer na dit wat ek kán laat klop.


“There’s nothing at the top and it doesn’t matter!” As he heard his own message he realized how he had misread the instinct to get high. - Stripe, ’n ruspe in Trina Paulus se Hope for the Flowers


In hierdie storie is ruspes vasberade aan die klim ten koste van hulleself en ander. Ek is gedurig hard aan die klim:

Om te oorleef, om raakgesien te word, om te voel ek het dinge onder beheer, om te doen wat ek dink my tevrede sal stel. As iemand van bo af sou aankom en sê: “Daar’s niks daar bo nie en dit maak nie eens saak nie, jy kan maar ontspan,” maak dit niks aan my nie, want dis nie eens in my verwysingsraamwerk nie.


As ek genade ’n kans sal gee beteken dit ek kan vir ’n slag stadiger beweeg en my verwysingsraamwerk verbreed. Ek hoef nie hoër te klim of weg te kruip nie. Onvoorwaardelike genade is genoeg vir elke deel van my. Selfs die dele van my wat weier om dit te begryp.



Maar húlle wil eindig wees en eng omgrens

tot klein begeerte en klein deursigtige liefde

vir alle naby en begrypbare dinge;


hulle wil hul afskei van U, en ’n skans

en skuilte bou, Heer, teen U hoë branding.


N.P. Van Wyk Louw, Die Profeet



Vir my is die “hulle” in hierdie uittreksel nie ander mense nie, maar veral my oortuigings van wat ek nog nodig het of moet verander aan myself voordat ek myself kan wees of wys. Wurm, skoenlapper en alles tussenin kan anders lyk as wat ek dalk self sou dink wanneer God se genade daarna kyk.



In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie;

ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie;

ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,

op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.

Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam,

sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.

2 Korintiërs 4:8-10


Hierdie stuk klink gewoonlik vir my triomfantlik, soos ’n pep talk halftyd in die kleedkamers voordat ons weer uitdraf en die ander span laat les opsê.


As ek mooi kyk is dit eintlik ’n belydenis van teenstrydighede. Sterflikheid maak Jesus se lewe sigbaar. Ek hoef nie onoorwinbaar te wees nie. Dit wat sinneloos voel kan dalk juis die sinneloosheid van dit wat my jaag ontbloot. Genade wys vir my ek kan maar gerus agterkom wie ek is. Ook deur die dele van my wat ek eintlik graag sou wou verander of vergeet.


Wie is ek? Die een of die ander?

Is ek vandag die een mens en môre die ander?


Is ek albei gelyk? Skynheilig voor ander, en voor myself 'n veragtelike, 

bejammerenswaardige swakkeling?

Of is iets in my vlugtend soos 'n weermag wat verslaan is terwyl die

oorlog reeds gewen is?

Wie is ek? Dié eensame vrae van my, spot met my.


Wie ek ook al is, o Here, ek is U s'n.

Dietrich Bonhoeffer


My pogings om te arrive en my pogings om te weg te hol. Die kere wat ek dink ek maak van myself ’n skoenlapper of die kere wat ek dink ek maak van myself ’n ruspe. Of dalk een of ander vreemdeling tussenin. God se liefde gryp my aan in genade.



- Deon Meiring

bottom of page