Wat is waar van waar ek is?
- inviagemeente
- 4 days ago
- 4 min read

’n Koning, ’n man van God, uitnodigings vir ete, ’n ou profeet wat jok, ’n leeu, ’n donkie en uiteindelik ’n lyk. Dis nie Agatha Christie nie. Dis nie Etienne Leroux nie, dis 1 Konings 13. Daar’s baie aan die gang. Om daaroor te praat is soos om ’n fliek te maak van ’n boek. Dis eintlik die moeite werd om dit self te lees. Selfs dan kan dit steeds net eenvoudig vreemd voel. Die eerste vraag wat God aan ’n mens vra in die Bybel is: “Waar is jy?” Dalk kan dit ons help met hierdie storie ook. Hier’s net so paar hooftrekke:
Waar is God?
Koning Jeróbeam gebruik altaars in die gebied waar hy regeer om sy ondersteuners naby hom te hou. Normaalweg sou hulle in Jerusalem aanbid. Hy wil hulle daar weghou, want dis waar hulle harte gaan verander (1 Kon. 12). Hoekom sal hulle harte daar verander? Is God net in Jerusalem? Nee, God skeur immers later Jeróbeam se altaar ver van Jerusalem uitmekaar. Jeróbeam suig ’n nagemaakte aanbidding uit sy duim. Asof aanbidding die punt is, eerder as God. Hy’s bang as sy mense in aanraking kom met ’n gemeenskap wat eerlik aanbid, dat hulle deur hom sal sien.
Die kunstenaar Tom Sachs het versot geraak op Piet Mondrian se skildery 165 Broadway Boogie Woogie. Hy sou dit net kon bekostig deur te werk vir ’n yslike salaris in Wall Street. Hy’t geweet dis nie wie hy is nie. Sy oplossing was om die skildery in diepte te leer ken in die museum waar dit hang. Uiteindelik met hierdie intieme kennis maak hy toe sy eie een. Uit tape en hout. Hy besit nog steeds nie die oorspronklike nie. Sy herskepping het hom wel in eerlike aanraking gebring met die oorspronklike. Hy sê hy dink hy ken die kunswerk beter as die persoon wat dit destyds gekoop, besit en aan die museum geskenk het.
Die oorspronklike
Jeróbeam Is in die middel van ’n aanbiddingskouspel met rook, offers en al, wanneer daar ’n man van God met die waarheid opdaag. Na aanleiding van hierdie man se woorde skeur die altaar uitmekaar en Jeróbeam wil gryp na mag. Dit los hom met ’n stokstywe hand voor hom uitgestrek. Hy’t nou te doen met die oorspronklike en hy weet dit. Hy wil dit vir homself hê. Hy smeek om genesing. Dit gebeur, maar hy wil die man van God selfs meer vir homself oorwen. Hy nooi hom vir ete. Die man van God weier. Dis nie wat God wil hê nie. Hy moet dadelik weer gaan. Met ’n ander pad as die een waarmee hy gekom het. Die waarheid van waar hy is, is dat hy nie nou kan bly nie. Dit weet hy.
Hongerte
Jeróbeam is magshonger. Eerder as om honger te wees vir die waarheid. Die man van God is nie honger genoeg om te eet en sy dors te les nie. Wanneer ’n ou, plaaslike profeet op ’n donkie dit van hom vra stem hy wel in. Hoekom? Die profeet jok en sê ’n engel het laat weet dis reg. Aan tafel lap dieselfde leuenaar die waarheid uit: God wou nie hê die man wat hy gestuur het moet stop vir ete nie. Kan dit wees dat die man van God eintlik honger was vir iets anders as kos?
“We are hungry. We are hungry for approval, attention, affection. We are hungry for the freedom to embrace life and to really know and be ourselves.” – Edith Eger
So vreemd soos wat hierdie storie is, tref dit my dat die mense in die storie baie maklik is om mee te vereenselwig. Hulle is nie sommer net die goeie ouens teen die slegte ouens nie. Hulle is die gewone mense wat probeer uitwerk wat hulle moet doen. Hulle wil uitwerk wie hulle moet wees.
Die leeu en die donkie
Die man van God is weer op pad. Die ou profeet het sy donkie vir hom opgesaal. Hy’s nog ver van die huis af toe ’n leeu hom doodmaak. Die leeu eet nie die man of die donkie nie. Die twee diere staan net by die man se lyk. Amper soos ’n ontstellende advertensiebord. As niemand geweet het nie sou hulle dalk net sê: “Shame, verkeerde tyd, verkeerde plek”. Nou sê mense wat daar verbykom: “Hy’t nie na God geluister nie”.
Die vrae
Was die arme man van God regtig so verkeerd dat hy moes doodgaan? Mense wil graag daaroor spekuleer. Nietemin het hy op die verkeerde tyd op die verkeerde plek beland. Nes Jeróbeam se volgelinge het hy toegelaat dat dinge in sy pad staan. Asof hy vergeet het dat hy nie net gekom het om die waarheid te praat nie. Daar was waarheid in die pad wat God wou hê hy moes stap ook. Saam met God. Eerder as om iewers anders vas te haak. Die waarheid van waar hy nou is, is dat dit nie is waar hy moes wees nie.
Die hart wat verander
Vroeër in Konings bid Salomo vir ’n hart wat sal luister (1 Kon. 3). Dis wat ons kan help om aan te hou loop saam met God. Eerder as vashaak by die namaaksels van die oorspronklike, dit waarna ons smag of dit wat in ons pad staan.
“…only an ‘understanding heart’, and neither mere reflection nor mere feeling, makes it bearable for us to live with other people, strangers for ever, in the same world and makes it possible for them to bear with us.” – Hannah Arendt
Wat is waar van waar ek is? Dis ’n vraag wat ons gedurig kan vra met ’n hart wat luister. Ons kan dit vra aan ons eerlike gemeenskap en aan God. Van Jesus wat self sê dat hy die Weg is. Sodat ons elkeen ons opregte pad saam met God kan stap sonder om in ander se pad te staan.
- Deon Meiring