top of page

Wat is aanbidding?



Ek moes een keer voor ’n landdros verskyn. Ek was darem nie die oortreder nie. Ek het gehoop dat die hof my kan help met ’n kwessie wat ek nie self kon oplos nie. Tog het dit my baie gespanne gemaak. Ek wou baie graag darem lyk asof ek weet wat ek doen. So ek het onder andere vooraf op Google gesoek hoe om ’n landdros aan te spreek. Die antwoord het nogal vreemd op my Afrikaanse oor geval. Jy moet “Your worship” sê. Ek het alles so reg gedoen soos wat ek kon. Netjiese hemp en das aangetrek. Netjiese baadjie, maar nog steeds het ek dwarsdeur die baadjie gesweet al was dit nie warm nie – so gespanne was ek. As ek net alles reg doen en sê, het ek gedink, sal dit verloop soos wat ek wil hê. Ten spyte daarvan het die landdros sommer vinnig my saak uitgegooi.


Die formaliteite is natuurlik daar vir ’n rede, maar vir my, op daai dag, was dit eintlik moeiliker om my saak behoorlik te stel juis omdat ek lomp verstrengeld geraak het in al die voorskrifte en vereistes. Die Psalms se aanbidding (of “worship” soos wat ek die landdros aangespreek het) wys vir ons iets van aanbidding wat nie altyd so gepla is met die regte prosedures nie. Die psalmdigter hoef nie soos in flieks oor hofdramas te vra: “Your honour may I approach the stand?” nie.

’n Lofpsalm soos Psalm 40 borrel eintlik spontaan oor met lof. In dieselfde asem roep die psalm nog steeds om hulp ook. Dit kom vanself, sonder om eers deur die sogenaamde regte kanale te gaan.


3 Hy het my uitgetrek uit die put van die dood,

uit die slymerige modder,

my op 'n rots laat staan

en my weer op vaste grond laat loop.


Dit klink in hierdie vers asof die moeilikheid eintlik al verby is, tog gaan die weerlose menslikheid nooit verlore in die psalm nie. Die modder is nie vergete nie en die laaste vers smeek eintlik dat God tog nie moet talm nie. Daar’s ’n vrymoedige dringendheid in die aanbidding. Tog beteken dit nie dat aanbidding soos wat ons dit dikwels tradisioneel ken – in ’n diens met sekere ritmes en vaste gebruike – heeltemal sinloos is nie. Daar is ’n ou bekende storie oor ’n rabbi wat vreeslik gedissiplineerd en getrou elke dag met sy gebedeboekie bid. Tog werk sy dinge eendag so uit dat hy nog huis toe stap wanneer dit weer tyd is om te bid. Hy val in die stofpad neer en bid die alfabet: “Here, rangskik asseblief hierdie nederige letters in die regte volgorde,” vra hy dan. Ek wonder of hy so ’n opregte gebed sou bid sonder sy getroue ritme van formele aanbidding. Albei kan sinvol wees wanneer dit ons help om in aanraking te kom met ons menslikheid. Dit waarvan ons dikwels wil wegskram om te lyk asof ons weet wat ons doen. Aanbidding help ons om te onthou dat ons nie eintlik weet nie. Dis juis hoekom ons kan lofliedere sing. Dis waaroor ons Sondag meer gaan gesels.



- Deur Deon Meiring

Comments


bottom of page