top of page

Waarom ons pyn nie genees nie…


Die opstandingsverhale leer ons hoe om met pyn in ons lewe om te gaan. Ons natuurlike neiging is om soos Kleopas in Lukas 24 weg te loop van ons pyn. Pyn isoleer, en amputeer die werklikheid om ons. Naas dit, inkarneer pyn binne ons as ‘n persoonlikheid en beheer ons begeertes, emosies, spraak, en drome. Boosheid en pyn loop altyd saam. Pyn wat nie gesond word nie word oorgedra aan ons kinders en geslagte.

Die kruisiging en die opstanding leer ons hoe God homself vereenselwig met ons pyn en ons weer heelmaak.

Kleopas kies nie die opstanding nie, maar eerder Emmaus. Jy kan dit maar Las Vegas noem. ‘n Romeinse Spa en die perfekte stimulant om my pyn te verdoof. Ons gebruik enige iets om onsself te vermy. Werk, seks, sport, drank, kos en Emmausse hou nie op nie. Wat die storie nog moeiliker maak is dat Kleopas se probleem gebore is uit ‘n geestelike krisis. Nie omdat hy nie glo nie, maar reeds omdat hy geglo het en baie naby aan Jesus was.

Waarom kon net sekere mense Jesus sien na die opstanding en ander nie? Die antwoord is eenvoudig. Kleopas se pyn keer die werklikheid van Christus. ‘n Vergete les vir Kleopas was Getsemane. Jesus vra dat hulle saam moet Hom moet waak. Waak beteken letterlik “kyk”. Hulle slaap nie omdat hulle moeg is nie, maar omdat hulle pyn het. “…they fell asleep out of sheer sorrow” Luk 22:45. Pyn maak my blind vir God, en die wêreld.

Kleopas word nie vining gered deur ‘n goeie Bybelstudie of dieper preek nie. Maar eers by ‘n ete, toe Jesus sy oë opmaak om Hom te sien. Die Leersmeester verskyn wanneer ons reg is. Sy pyn moes eers versag, en Kleopas moes leer om in Jerusalem te bly.

Dit is waar die opstanding plaasvind.



- Deur Theo Geyser

bottom of page