top of page

Waar was jy?

ree

‘n Mens se kop hoef nie, kan nie, sal nie alles begryp wat jou hart en jou verbeelding aangryp nie. 


Because sometimes you need a biologist, and sometimes you need a poet.

Sometimes you need a scientist, and sometimes you need a song.

Rob Bell


Daar is diep rus in die groot onwis. 


Ek vind rus in die aanvaarding van God as misterie.

Ek het die onrus van die ou dogmatiese sekerhede ontvlug.

Almero Cloete


As jy dit kan bereken, begryp, bevind, bepaal of behaal, is dit nie God nie.


Si comprehendis, non est deus.

Augustinus


My desire is that people may have the full riches of complete understanding in order to know the mystery of God.

Col. 2:2


… alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, 

om die verborgenheid te leer ken 

van God en die Vader en van Christus.


Teologie – die studie van die natuur van God en godsdiens – gee nie noodwendig wysheid, of dié soort wysheid (m.a.w. antwoorde) waarna ons op soek is, in krisistye nie. Alle teologie moet lewende geloof word om ons, of die wêreld, werklik te verander. Dis teleurstellend dat ons Christene veel groter klem geplaas het op teologie, kategisme en godsdienstige opleiding as op gebed en praktyk (kontemplasie en aksie).


Die boek Job, wat bestaan uit prosa en meestal poësie, is een van die grootste boeke wat ooit geskryf is oor gebed. Dit breek ons aannames en stereotipes oor wat dit beteken om met God te kommunikeer. Eers as ons Job se storie sien as ‘n reis na ‘n dieperwordende ontmoeting met God, kan ons waarlik omgaan met die oeroue vraag: “Hoekom laat God toe dat (goeie) mense swaarkry?” Dis ‘n storie wat eers ten volle sin maak vir diegene wat swaarkry ken, wat al teen die grond was, op ‘n plek waar God in der waarheid nie meer sin maak nie en waar ons nie kan glo “God het ‘n plan” nie.


Job verloor alles. Nie “alles” soos wat ons sê as iemand bankrot is nie. Alles. Sy familie, sy inkomste, sy spaargeld, sy gesondheid, alles. Sy praktiese, godsdienstige vriende, wat dink hulle is God se persoonlike boodskappers, kom met hom praat. 

Hulle argument: God is regverdig. 

Die implikasie: God bestuur die heelal op grond van regverdige beginsels. 

Die logiese aanname: Job moes vieslik gesondig het. 

Job se argument is dat hy onskuldig is. 

Die implikasie daarvan is dat sy lyding nie berus op goddelike regverdigheid nie. 

Sy aanname: God bestuur nie die heelal op grond van regverdigheid nie. 


Die vriende probeer die misterie uit die lewe blaas en, kom ons oordeel maar nie: ons as mense deal nie goed met misterie nie. Selfs in die kerk verkoop ons geloof-“sekerheid”. Job se vriende omhels die idee van ‘n voorspelbare wêreld wat ten volle en goed bestuur word. Daar is geen onbeheersde dele nie, geen onverduidelikte hoekies nie, geen verrassings wat nog openbaar kan word nie. Hulle geloof is verskraal tot 'n beoefening van die status quo van hierdie welgeordende sisteem.


'n Sisteem van menslike beheer word as plaasvervanger gekies vir die vry bestuur van God. Job se vriende kan nie rekening hou met 'n God wat vry is nie. Hulle kan hulself nie toestemming gee om risiko's te neem of om bewus te word van iets ondenkbaar nie. Op die ou end kan hulle nie medelye toon vir iets of iemand buite hulle netjiese sisteem van beheer nie. Job se lyding word as straf interpreteer.


Sheila Cussons sou dalk die volgende vir die vriende wou sê:


I don’t like biologists who talk about man

as if he were only a pan of brains.

I like theologians even less who

seeing him shattered insult the remains.


Job, aan die ander kant, het nie krag vir mooi woordjies en ordentlike rympies wat uit die kop geleer is nie. Job konfronteer God, die juiste ding wat baie van ons geleer is om nie te doen nie. Ons noem dit trouens godslastering. Hy skree op God, beskuldig God van allerhande goed, praat selfs sarkasties en sê hy wil niks meer met God te doen hê nie. Die soort gebed wat net gebid kan word as die bidder ‘n dieper ervaring het van God se nabyheid. ‘n Mens kan net so bid as jy op ‘n intieme vlak verseker is van die wesenlike verbintenis (verbond) tussen jou en God. Die arena wat ons soms beskryf as die plek waar engele te bang is om te loop. Job beroep hom óp God téén God. 


En dan, na wat voel soos ‘n ewigheid van God se stilte, praat God. Die Godsrede (Job 38-41) vorm die klimaks van hierdie stuk Hebreeuse poësie. 'n Mens sou verwag dat God op hierdie stadium van die "geveg" aan Job 'n verklaring sou gee vir sy lyding. Dit sou baie probleme in die wêreld en gevegte in die kerk opgelos het en mense wat nie glo nie as gevolg van die probleem van pyn, sou vandag nog daarby baat kon vind. Of ten minste nie meer wonder nie. Dit gebeur egter nie. God antwoord Job se aanklaende vrae met 'n stortvloed van meer as 80 retoriese wedervrae waarvan een is:


Waar was jy toe Ek die fondasies van die aarde gelê het?


Hy neem Job op ‘n virtuele toer deur die kosmos – ‘n komplekse, wye, woeste plek wat nie swart en wit is nie, maar waarvan Hy sy oog op elke detail het. En dan sê God Job was reg. Nie sy aannames nie, nie sy logika nie, nie sy dinkwerk nie; sy gebed. Om te stry en te worstel met God en te vertrou dat God weet wat om met ons eerlikheid en rou te doen. Walter Brueggemann skryf so:


“Muteness is practical atheism. Job keeps believing and speaking; he lives for the dispute. Likely that is why in ancient Israel there are no atheists. The conversation of faith is the best action in town. Job is characteristic of Jewishness that finds dispute a viable, crucial form of faith. Job delineates his experience of negation, of God's absence and silence, of God's refusal to deal with his issues. Job yearns most for an answer, any answer, because he prefers harsh dialogue to an empty monologue.”


God gee Job ‘n kykgat op Sy uitsig en hierdie uitsig lei tot dieper insig. 


“Job’s religious friends and advisers have correct theory but no experience; thoughts about God, but no love of God. They believe in their theology; Job believes in the God of their theology. It is a big difference. The first is information; the second is wisdom.”

Richard Rohr


Die vrae wat ek myself nou vra: 

Praat jy oor God, of met God?

Is jou lewe ‘n dialoog met jou Skepper as Bondgenoot en Gespreksgenoot of is alles verskraal tot ‘n beheersde monoloog?


“Faith if it is to survive knowingly and honestly, must live in an unjust world....Job learns that while the world may not be to his liking, the world will hold at its centre because it is God's world. The world does not rest in Job's virtue. In the end Job is released for yielding and submission, for trust and praise, and finally he is released for freedom to live."

Walter Brueggemann


Job kry nie antwoorde nie, maar genoeg insig en versekering om aan te hou lewe as 'n gelowige (lees: iemand wat God vertrou) in 'n wêreld wat aanhou om onregverdig (lees: none of us deserving the cruelty or the grace, ala Leonard Cohen) te wees. Geloof, as dit eerlik wil oorleef, moet leef in 'n onregverdige wêreld.


In Job 42:5 is Job aan die woord: 

“Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien.

Daarom herroep ek en het berou in stof en as.”


Klink amper soos sy sy voorvader Jakob in Gen. 28: 

“Waarlik, die Here is op hierdie plek en ék het dit nie geweet nie.”



- Frieda van den Heever


bottom of page