top of page

"Waar is jy?..."



James Hollis het ‘n boek geskryf “Living Between Two Worlds” wat ‘n baie mooi beskrywing gee oor hoe om jou wêreld beter te verstaan. Hy gebruik sielkunde, mites en verskeie literatuur om die innerlike reis te verduidelik oor hoe ons deur verskillende wêrelde moet reis. ‘n Kind se wêreld verskil van ‘n adolessent en ‘n adolessent se wêreld verskil van ‘n volwassenne. Dit geld nie net vir fisiese ontwikkeling nie, maar ook vir ons geestelike en emosionele groei.

Hoe ons ons eie wêreld verstaan is hoe ons die storie van onsself en ander vertel.

Jode glo dat elke mens maar eintlik net ‘n storie is. In die Talmud, wat beskou word as ‘n gesaghebbende geskif vir die Jode, staan daar: ”God is lief vir stories en daarom het Hy mense geskape”. Milan Kundera sê dit ook mooi: “What is the self but the sum of everything we remember?” Alles wat met ons gebeur en wat ons kan onthou word die materiaal waarmee ons die storie van ons lewe vertel.

Indien dit so is, dan is daar ‘n baie belangrike vraag wat ons moet antwoord: Is ek bewus van hoe ek my eie storie vertel? Vertel ek die regte storie vir myself in die wêreld waarin ek my bevind?

Ons gaan die volgende paar weke gesels oor vrae in die Bybel en hoe hierdie vrae ons kan help om beter te sien waar ons is. Die eerste vraag in die Bybel is toevallig: Waar is jy? (Gen 3:9). Dit is maklik om dit geografies te antwoord, maar baie moeiliker om dit psigies, emosioneel en geestelik te kan sien en te antwoord.

Ons kyk Sondag na hoe maklik ons stories verander word deur skaamte, verontskuldigings en vrees. Ronald Rolheiser sê: Whether we feel good or bad about ourselves is often predicated on what kind of story we understand ourselves as living within.”

Dit is eers as jy jou eie storie kan sien soos wat dit werklik is dat jy plek kan maak vir ‘n baie groter storie wat God in jou lewe wil skryf!



- Deur Theo Geyser

bottom of page