Vra jouself: Waarom dra ek so swaar?

Scott Peck begin sy bekende boek The Road Less Traveled met drie eenvoudige woorde: “Life is difficult.”
Die lewe is moeilik.
Dit is amper té eenvoudig om waar te wees. En tog is daar iets bevrydends aan hierdie drie woorde. Want miskien is een van die redes waarom ons die lewe soms ondraaglik swaar vind, dat ons geleer het om te glo dat die lewe eintlik nie veronderstel is om moeilik te wees nie.
Ons behoort gelukkig te wees. Ons behoort suksesvol te wees. Ons behoort sterk te wees. Ons behoort ons geloof reg te kry. Ons behoort die lewe te geniet.
En wanneer dit nie gebeur nie, begin ons wonder: Wat is fout met my?
Miskien is die beter vraag soms nie: “Wat is fout met my?” nie, maar: “Waarom dra ek so swaar?”
Paulus het presies hierdie beeld gebruik, lank voordat sielkundiges van "emosionele bagasie" begin praat het. "Elkeen sal sy eie pak dra," skryf hy in Galasiërs 6:5. Die Griekse woord wat hier met "pak" vertaal word, phortion, is nie sommer enige woord vir "las" nie — dit is die spesifieke woord vir die rugsak wat 'n Romeinse soldaat op sy eie rug moes dra. Nie oneindig groot nie. Nie oneindig klein nie. Net soveel as wat een man kon dra, ontwerp om gedra te word.
En dit is presies hier waar die probleem begin.
Nie omdat ons 'n rugsak dra nie — dit is normaal, dit is menslik, dit is deel van hoe ons gemaak is. Die probleem is dat ons dit oorlaai. Ons prop te veel binne-in in, en dan bind ons nog ekstra gewig van buite af daaraan vas, totdat 'n pak wat ontwerp is om gedra te word, iets word wat ons begin verpletter.
En ongelukkig help ons kultuur ons nie juis om hierdie rugsak reg te pak nie. Drie stemme, in besonder, maak die pak swaarder as wat dit hoef te wees:
Eerstens, 'n happy-kultuur. Ons leef binne 'n verbruikerskultuur wat vir ons belowe: hierdie produk, hierdie vakansie, hierdie aankoop sal jou gelukkig maak. Blydskap word iets wat 'n mens koop. Sosiale media word 'n vertoonkas van almal se geluk — het jy al ooit vir 'n oomblik gedink jy is die enigste een wat sukkel, omdat elke feed net glimlagte en vakansiefoto's wys? Ons kultuur leer ons om pyn weg te oefen, weg te werk, te verdoof met drank of afleiding, of eenvoudig voor te gee dat alles reg is.
Tweedens, 'n verwronge teologiese lens. Baie van ons het, ergens onderweg, geglo dat as jy net reg glo, reg leef, hard genoeg bid, sal dit goed gaan met jou — en as dit nié goed gaan nie, is dit 'n teken dat iets met jou geloof fout is. Jesus self waarsku juis teen hierdie soort las: "Hulle bind swaar laste (φορτία / phortia) op wat moeilik is om te dra, en lê dit op die skouers van die mense" (Matt. 23:4). Dit is 'n las wat nie deur die lewe self opgelê word nie, maar deur 'n vals prentjie van wat 'n "goeie" gelowige veronderstel is om te voel.
Derdens, 'n innerlike stem wat nooit tevrede is nie. Ons almal ken die ‘inner critic’, daardie stem wat binne-in jou sê dat jy nie goed genoeg is nie. Met al die druk van buite en al die eise wat ons self aan onsself stel, begin ons vir onsself 'n ideale weergawe skep — 'n stem wat aanhoudend fluister: daar is iets fout met jou; jy moet beter wees; jy moet jonger, vryer, suksesvoller wees; jy is nie goed genoeg nie.
Nêrens sien 'n mens hierdie drie stemme se uiteinde duideliker as by die profeet Elia nie.
En hier is die verrassing: Elia se ineenstorting kom nie ná 'n mislukking nie. Dit kom net ná sy grootste triomf. Hy het pas, alleen, teen vierhonderd-en-vyftig Baälprofete gestaan — en gewen. Vuur het uit die hemel geval. Die volk het op hulle aangesig geval. En dan, 'n hoofstuk later, sit dieselfde man onder 'n besembos en sê vir God: "Dit is genoeg, Here! Neem nou my lewe, want ek is nie beter as my vaders nie" (1 Kon. 19:4).
Dit is die moeite werd om hierby stil te staan: geestelike duisternis is nie 'n straf vir mislukking nie. Dikwels kom dit juis ná die grootste oorwinnings, wanneer die adrenalien wegsak en die menslike liggaam en siel eenvoudig nie meer kan nie. Elia se stem onder die besembos is nie uniek nie. Die Bybel is vol van soortgelyke stemme, elkeen met sy eie kleur van swaarkry. "Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel," skryf die digter van Psalm 38 — die stem van skuld. "Neem dan nou my lewe," bid Jona — die stem van woede, omdat die lewe nie volgens sy planne verloop het nie. "Waarom het ek nie in die moederskoot gesterf nie?" vra Job — eksistensiële wanhoop, 'n manier om te ontvlug. "Vervloek is die dag waarop ek gebore is," ween Jeremia — die weenprofeet, uitgebrand ná jare van praat vir dowe ore. En Elia, op sy berg, met sy "ek is nie beter as my vaders nie" — 'n stem wat, as 'n mens mooi luister, na iets soos akute depressie klink.
Wat doen Elia met sy rugsak wat wil skeur? Hy vlug. Hy hardloop 'n dag se reis die woestyn in, gaan sit onder 'n besembos, en wil sterf.
Ons kan Elia nie te vinnig veroordeel nie — vlug is dikwels ons eerste, mees menslike reaksie op oorweldiging. Dietrich Bonhoeffer het na Elia se grot op Horeb gekyk en dit as 'n simbool van godsdienstige ontvlugting beskryf — 'n soort pietistiese isolasie: net ek en die Here, terwyl die wêreld teen my draai. Dit is 'n verstaanbare, selfs verstaanbaar heilige, poging om te oorleef. Maar dit is nie waar die verhaal eindig nie.
Ons gesels Sondag oor hierdie ontmoeting of hoe Elia sy rugsak aflaai.
Die Kwaker-skrywer Parker Palmer, wat self met diepe depressie geworstel het, skryf oor presies hierdie proses in sy gedig "Harrowing" — 'n woord wat self albei betekenisse dra: om te ploeg, én om verskriklik pynlik te wees.
The plow has savaged this sweet field Misshapen clods of earth kicked up Rocks and twisted roots exposed to view Last year's growth demolished by the blade.
Innerlike wroeging voel nie soos 'n sagte hervorming nie; dit voel soos 'n gewelddadige ingryping. Dit is die ongemaklike konfrontasie met ons eie onverwerkte verlede — die wortels wat skielik, lelik en ontbloot, na bo kom.
I have plowed my life this way Turned over a whole history Looking for the roots of what went wrong Until my face is ravaged, furrowed, scarred.
Hier herken 'n mens presies die obsessiewe kognitiewe siklus wat swaar gemoed so dikwels bring: die voortdurende "omspit" van jou eie geskiedenis, op soek na presies waarom dinge verkeerd geloop het. En Palmer se eie gesig, deur hierdie proses, word self ontwortel, gegroef, geskeer.
Maar dan, 'n keerpunt:
Enough. The job is done. Whatever's been uprooted, let it be Seedbed for the growing that's to come. I plowed to unearth last year's reasons— The farmer plows to plant a greening season.
Dit is die genesende beweging: die ontwortelde gebrokenheid word nie ontken nie, maar ook nie meer eindeloos ontleed nie. "Let it be." Die omgeploegde, stukkende grond is nie 'n kerkhof nie — dit is 'n saadbed. 'n Mens ploeg nie om die verlede te verklaar nie; 'n boer ploeg om plek te maak vir 'n nuwe, groen seisoen.
Palmer self het geskryf dat sy eie genesing nie deur een groot deurbraak of 'n enkele "aha"-oomblik gekom het nie, maar deur waiting, watching, listening, suffering, and gathering whatever self-knowledge one can — wag, waarneem, luister, verduur, en versamel watter selfkennis ook al beskikbaar is.
Die duisternis self, sê hy, was nie sy vyand nie — dit was "die hand van 'n vriend," wat hom afgedruk het, grond toe, na 'n plek waar dit veilig was om te staan.
- Theo Geyser




