Laaste klompie dae in Jesus se lewe was baie moeilik. Jy kan dit maar lees as ‘n verslag van verraad. Hy word bedrieg, daar word leuens oor Hom vertel, die massas draai teen hom, en die hartseer is, dit is mense naby aan hom. ‘n Mens kan nie anders as om hierdie mense te veroordeel nie. Wie is hierdie mense? Kan hulle nie sien wat hulle doen nie? Hoekom is hulle so blind? Waar kom hierdie ongekende jaloesie vandaan? Hoekom kies hulle hierdie vals sekuriteit van die keiser en korrupte godsdiens bo God se voorsiening en liefde? Hoekom soek hulle ‘n super hero?
Daar is amper ‘n ironie binne dit: Die storie word so geskryf dat almal in die beskuldigingsbank is, behalwe Jesus. Die massas, owerhede en magte om hom word uitgewys vir hulle blindheid. Die laaste paar dae is ook ‘n spieël vir ons lewe. Wanneer dinge goed gaan, is dit maklik om by Jesus te bly. Wanneer dinge sleg gaan verander verander ons ratte. Daar is iets in elkeen van ons wat ons ook in die beskuldigingsbank sit. “...omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig...” Heb. 6:6
Ons gesels Sondag oor hierdie verraad, en gaan kyk wat Jesus doen in moeilike tye en hoe hy reageer in die lyding waardeur hy moet gaan. Die lewe gaan jou ook neem na jou “laaste 7 dae” hier op aarde. Hier praat ek nie van die terminale dood wat ons finale afsluiting op hierdie aarde is nie. Ek praat van die Paas-misterie, die ware dood wat ons moet sterf op hierdie aarde van al daardie waardevolle goed soos sekuriteit, mag, aanvaarding en nog meer wat die massas bo Jesus gekies het.
“In every arrival there is a leavetaking; in every reunion there is a separation; in each one’s growing up there is a growing old; in every smile there is a tear; and in every success there is a loss. All living is dying and all celebration is mortification too.” - Henri Nouwen
- Deur Theo Geyser