top of page

tas-sensitief


Die isolasie het ons onwillekeurig laat terug dink aan toe Lucca klein was. Lucca was meer as 2 maande te vroeg gebore en een van die nagevolge daarvan was dat hy tassensitief was. Omdat sy velletjie nog nie veronderstel was om aanraking te kry nie, was enige aanraking vir hom baie seer. Dit het sy brein geleer dat aanraking pynlik is. Daarom ervaar Lucca soms pyn en angs met aanraking alhoewel enige ander kind dit as normaal sal beleef. Tas-sensitiwiteit word vergelyk met iemand wat sy naels teen 'n swartbord krap of wanneer iemand sy naels te kort afgesny het. Hy vermy tot vandag toe nog sekere plekke en teksture. Sy wêreld was baie klein en hy het geweier om die onbekende naby aan hom toe te laat.

Die fisioterapeut het vir ons 'n paar oefeninge gegee om Lucca te help. Hy moes byvoorbeeld 'n speelding uithaal wat weggesteek was in ‘n bak met droë rys. Die oomblik toe sy hand die rys raak het hy sy hand weggeruk asof dit hom brand. Hy het volstrek geweier om sy hand weer daarin te sit, al sit ons ‘n lekkertjie daarin. Hy wou ook nie op die gras kruip of daaraan raak nie. Ons moes elke aand Lucca se hele lyfie borsel met 'n klein sagte borseltjie. Sy giggeltjies was aansteeklik en sy ou lyfie was vol hoendervleis totdat die kielie nie meer verdra kon word nie.

.

Deur hierdie eenvoudige oefeninge en ander, kon Lucca sy normale funksies terugkry en verbeter. In die VSA staan die terapeutiese proses bekend as repatterning. Dit is dieselfde as waaroor ons gister gepraat het met die Enneagram Gesprek op Facebook oor “counterconditioning” of kognitiewe herstrukturering. Die uitgangspunt is eenvoudig: Die brein moet van voor af geleer en geprogrammeer word om aanraking te kan verduur of situasies anders te beleef.  Richard Rohr sê: “Don’t think yourself into a new way of living, live yourself into a new way of thinking.” Deur anders te begin doen word ons brein geherprogrammeer. Liefde werk ook so.

Hierdie isolasie kan ‘n wonderlike geleentheid wees vir kognitiewe herstrukturering, om die wêreld (en ons daaglikse lewe) te sien soos wat dit werklik is en nie hoe ek dit interpreteer of dink dit is nie. Almal kan in hierdie tyd iets (her)ontdek wat ons verloor het. Ek en Wilma het nuwe ritmes van saam kosmaak, speel en minder gejaag wees wat ons soos goud wil bewaar na die isolasie.

Dalk is ons ook tassensitief in hierdie wêreld en die isolasie help ons om te sien dat ons geherprogrammeer moet word om anders met die wêreld om te gaan.

Kom ons leer om ons wêreld vas te hou soos wat God wil.

“Do not be conformed to this world any longer with its superficial values and customs, but be transformed and changed by the renewing of your mind.” Rom 12:2 (Amplified Bible)


Geloofsgewoonte vir die dag:


Wat is dit wat jy vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer begin doen het wat jy besef waardevol is? Doen dit meer en maak ook ‘n verbintenis om dit aan te hou doen.

Vir ouers: Sit weer in ‘n sirkel saam. Laat elkeen sê hoe hulle nou voel. As dit nie ‘n emosie is nie soos byvoorbeeld “moeg” of “so-so”, vra dan hoe voel moeg of so-so? Vra hulle wat laat hulle lekker voel? Wat is nou anders en beter in hierdie isolasie en wat is slegter? Gesels oor maniere hoe julle dit wat beter is meer gereeld kan doen om nuwe gewoontes tot stand te bring.


Herhaalgebed:


Here, verander my deur my gedagtes nuut te maak.


Geskryf deur Theo en Wilma Geyser

bottom of page