top of page

Skoonheid: Is jy nie meer werd nie?

ree


Die soeke na skoonheid is in essensie die soeke na God self. Wanneer ‘n mens se hart week word vir ‘n lied, of die siel stil raak in die aanskoue van ’n berg, dan word daar ’n venster oopgemaak na die Ewigheid. 


In die Talmud (’n boek wat verduidelik wat in die Ou Testament staan), leer ons dat God elke dag drie ure spandeer om "met die lewende dinge te speel." Dit wys vir ons dat God nie net die wêreld gemaak het nie, maar dat Hy ook deel is van dit wat Hy gemaak het – en Hy geniet dit! Hy is bly oor sy skepping e nook oor hoe mooi dit is.


In Sefanja 3:17 staan daar:

"Hy is bly oor jou met vreugde."

God sien iets besonders mooi in ons.


Die ou rabbi Akiva het dit pragtig gesê: "Die mens is geliefd omdat hy na God se beeld gemaak is. Maar hy is nog meer geliefd omdat God dit vir hom bekend gemaak het."

Dit beteken: God het ons nie net mooi gemaak nie – Hy wil ook hê ons moet weet ons is mooi! Die probleem is dat ons dikwels nie sien wat God in ons sien nie. Daarom sukkel ons om gelukkig te wees oor onsself. Maar as ons kon sien deur sy oë, sou ons ook vol vreugde wees! Ons is gemaak vir skoonheid.


Skoonheid help ons onthou wie ons regtig is – mense wat God se beeld dra.


Wanneer ons iets regtig mooi sien – soos ’n berg in die oggendson of iemand wat iets goed doen sonder rede – dan onthou ons: Ek is ook ’n draer van skoonheid. Ons word daaraan herinner:  Ek is nie net hier om dinge te doen nie. Ek is meer as net werk of pligte. Ek is geliefd.


Prediker 3:11 sê: “God het alles mooi gemaak op die regte tyd. Hy het ook die ewigheid in mense se harte gesit. Maar niemand kan heeltemal verstaan wat God doen van begin tot einde nie.”


In die skreiende paradoks van ons tyd, het ons die gawe van skoonheid en die ewigheid gereduseer tot ‘n kommoditeit. Jesus het die diepgaande verskil blootgelê toe Hy ‘n enkele lelie bo die roem van Salomo se tempel verhef het. Waar die tempel ‘n menslike poging was om God te beskryf, is die lelie ’n direkte uitdrukking van Hom. 


Dit is waarom Jesus se opdrag so krities is: "Kyk!" Hierdie imperatief is nie bloot ‘n waarneming van die oog nie, maar ’n aktiewe daad van kontemplasie wat die gejaagde menslike brein tot stilte dwing. Dit is ’n uitnodiging om die oppervlakkigheid van die "like"-kultuur te weerstaan en te verstaan dat die waarde van ‘n kunswerk nie in sy prys of gewildheid lê nie, maar in die transformasie wat dit teweegbring. 


Die hele skepping sug en wag dat die kinders van God geopenbaar sal word in hulle skoonheid.


Selfs die berge en die bome wag saam met ons dat ons sal sien wat hulle al lankal weet.


Ons moet net leer om te kyk!





"Beauty is God’s way of telling us we are loved before we can believe it." Henri Nouwen


"Our hunger for beauty is our homesickness for God." Ronald  Rolheiser


"True beauty always leads to justice, mercy, and humility before God." Brueggemann



- Theo Geyser


bottom of page