top of page

Sing bietjie saam




Die Ou Testament is propvol versies wat die leser aanmoedig om te sing. Dit gaan gewoonlik gepaard met vrolikheid en ‘n gejubel, soos byvoorbeeld Psalm 33:3:


Sing vir Hom ‘n nuwe lied, speel met volle oorgawe, jubel dit uit!


En ook Psalm 100:2 – 


Dien die Here met blydskap, kom voor sy aangesig met gejubel!


En natuurlik Psalm 95:1 – 2:


Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, juig tot lof van die rots van ons redding! Laat ons voor Hom kom met lofgesange, Hom toejuig met psalms!


Om te sing is menslik. Om saam met ander te sing, hemels. Wie’t nog nie heimlik ‘n traan weggevee terwyl ons volkslied uit volle bors by ‘n rugby-finaal saamgesing word nie? Klomp stemme word een stem en ‘n simfonie van menslike klanke verenig mense van alle rasse en kulture.


Ons sing want dis mooi. En dis lekker. En dis ook leersaam. In Bybelse-tye was daar nie Spotify, tapes, CD’s of iPods gewees nie. Daar was ook nie toegang tot bybels vir gewone mense nie. Wat ons ken as die Nuwe Testament was hoeka nog aan die ontvou gewees.


Maar een ding is seker – die jong kerk het gesing. Om die tekse te onthou. Om hulself te verenig. Om mekaar te bemoedig – want die vervolging was groot. En om hulle liefde aan God uit te druk deur hul stemme. Om dankie te sê en om mekaar te leer.


Paulus het hierdie mooi verstaan, - "en spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, terwyl julle die Here altyd dank in die naam van onse Here Jesus Christus.", skryf hy aan die gemeente in Efese. Aan die kerk in Kolosse skyf hy, “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon: in alle wysheid; leer en vermaan mekaar en sing psalms en lofsange en geestelike liedere met dankbaarheid in julle harte tot eer van God.” Jesus se half-boetie, Jakobus, skryf in sy eie boek "Is iemand onder julle in verdrukking? Laat hy bid. Is iemand bly? Laat hy lof sing."


St. Augustinus het geglo om te sing is om tweekeer te bid: Bis orare est cantare


Vir hom was sang meer as net woorde – dis om te bid met jou hele liggaam – melodie, harmonie en ritme.


Vandag het ons Spotify, Apple Music en klomp ander goed wat dit maklik maak om musiek te kan luister. Dalk te maklik want ons vergeet dat ons mense is en ons stemme en lywe wil sing. 


Heelwat mense kom vra ons oor liedjies en musiek wat ons deesdae sing by Invia. Dit tref mens diep en soms wil jy na die diens weer ‘n keer daarna luister. Vir hierdie rede het ons ‘n (groeiende) speellys gemaak sodat jy op jou tyd daarna kan luister. Dis veral die musiek van die groep The Porter’s Gate wat so diep resoneer met ons gemeenskap, maar daar is natuurlik ander ook. Ek sal voortdurend nuwe musiek byvoeg by die speellys – so luister gerus voort.


Laai nou die Invia Speellys op Spotify of Apple Music af en maak dit deel van jou daaglikse ritmes. Leer dit. Sing dit. Geniet dit.


Lekker sing en luister!

Lukie



Kry die Spotify Speellys hier: 






Comments


bottom of page