Sekerheid in Geloof: slangetjies en leertjies of kringetjies en kruisies



Ons noem hierdie reeks: Geloof/sekerheid, want die woord wat ons daaruit geskep het - geloofsekerheid - is eintlik 'n paradoks.


Ons word uitgenooi na 'n geloofsreis met God, in God en baie van ons s'n het in ons koppe begin met die woorde "Neem jy Jesus as jou persoonlike Saligmaker aan?" Ons vergeet dat ons in Liefde gemaak is, dat God ons diep liefhet. Ons fokus so op "Jesus min my salig lot" dat ons vergeet dat Hy ons nou, hier, liefhet.


Optelsom


Jesus min my

tel my op

maal my, deel my

tot ek klop


W.L. van der Merwe


Hierdie reeks gaan oor die fases, die seisoene, waardeur ons op hierdie avontuur gaan. Om Sheila Cussons se woorde te gebruik: "En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur van jóú."


Aan die begin is dinge dikwels eenvoudig: Jesus min my salig lot, draai of braai, is Jesus in jou hartjie? Is jy gered? Die slang het vir Eva verlei en toe gaan dinge suid. Stoute Eva. Slegte slang. Swart en wit. Grys is gagga. Ons plaas al ons sekerheid in ons geloof.


En dan kom daar tye, of lang periodes van twyfel waarbinne ons meer geloof in sekerheid het as sekerheid in geloof. Hierdie twyfel, wat nie "backslide" is soos mense geneig is om te dink nie, wat nie die teenoorgestelde van geloof is nie, lei dan dikwels tot 'n verstrengeling. Eenvoud word samegesteldheid. Dinge is nie meer dit OF dit nie, maar dit EN dat. Dinge word meer kompleks. Die geloofsreis is nie 'n life-sentence nie - nie 'n vonnis nie en dit maak ook nie altyd sin nie; dis 'n avontuur. En ongelukkig maak hierdie fase dikwels nie genoeg ruimte vir die avontuur wat ook pyn en swaar en twyfel insluit nie. En hierdie avontuur is nie 'n korporatiewe leer wat jy kan klim nie (slangetjies en leertjies) nie. Dis kringetjies en kruisies, soos ons bloudruk - Christus - ons kom leer lééf en sterf het.


En hierdie verstrengeling ontaard dan in 'n gevoel van diep ontreddering. Waar jy letterlik sonder 'n redder, sonder redding, voel. Waar "Is jy gered of saved?" soos die groot vraag in die eerste fase van eenvoud dikwels gevra word, jou sonder antwoorde los.

En hierdie ontreddering, AS jy begelei word en kan glo: "In Hom word hou alles stand" en dat God regtig Liefde is en jou ontmoet presies waar jy is, kan weer sy siklus voltooi in heelheid. In eenwees. Met myself, ander en God.

By InVia praat ons baie oor sirkels, ons sit meeste van die tyd in sirkels en ook hierdie fases is meestal nie lineêr nie. Dis nie 'n leer nie. Dis 'n sirkel. (kringetjies én kruisies). Dit gaan deur siklusse. Of dis soos die jaarringe van 'n boom. Wat uitsprei, wat ruimer, méér boom word.

In Brian McLaren se woorde in sy boek Faith after Doubt:

"We descend from the ladders and pedestals we have erected, and we rejoin the community of creation, the network of shalom, the ecosystem of harmony. The loss is no small thing, ah, but the gain is incomparably greater."


My lewe hang aan 'n draadjie, ja. Ons word deesdae meer as ooit daarvan bewus gemaak. Egter ook: my lewe hang aan 'n draad, 'n goue draad wat my aan God vasbind en wat ons, deur eenvoud, verstrengeling, ontreddering terug in heelheid begelei.

The Way It Is

There’s a thread you follow. It goes among

things that change. But it doesn’t change.

People wonder about what you are pursuing.

You have to explain about the thread.

But it is hard for others to see.

While you hold it you can’t get lost.

Tragedies happen; people get hurt

or die; and you suffer and get old.

Nothing you do can stop time’s unfolding.

You don’t ever let go of the thread.

William Stafford


- Deur Frieda van den Heever