’n Professor in sosiale sielkunde, Tom Postmes, gebruik die beeld van ’n vliegtuig wat val en in drie stukke breek. Soos wat die kajuit vol rook word besef mense hulle moet uitkom. Wat gebeur?
Op Planeet A haas mense na mekaar toe, vra wie het hulp nodig en red eerste die kwesbaarste passasiers ten koste van hulleself.
Op Planeet B is daar paniek, ’n gestamp en ’n gestoot en mense vertrap mekaar om hulle eie lewens te red.
Op watter planeet leef ons?
As ons moet glo wat ons in die nuus lees of selfs hoe mense mekaar in die verkeer behandel – seker op Planeet B.
”We are not rational enough to be exposed to the press,” sê Nassim Nicholas Taleb, ’n statistitkus.
Die waarheid is dat ons in byna elke geval op Planeet A leef, sê Professor Postmes.
Ek het hierdie voorbeeld raakgelees in Rutger Bregman se Humankind waar hy die saak stel vir die mensdom se oorwegende goedheid, selfs barmhartigheid teenoor mekaar.
Tog is ons seker nie almal Samaritane wat uitkyk vir vreemdelinge nie?
Ek voel dikwels asof ons almal op verskillende planete leef wat op onvoorspelbare maniere om mekaar wentel en gedurig dreig om te bots. Dis nie net Planeet A of Planeet B nie. Dis ’n hele spul.
“Die wêreld is mal – jy is die uitsondering,” sing Francois van Coke. Ek neem aan hy verwys na ’n geliefde. Dis hoe dit voel om iemand te kry wat oor die dinge wat saak maak met jou saamstem. ’n Meer letterlike interpretasie van daardie lirieke is vir my net so insiggewend.
As die wêreld mal is kan elkeen van ons tog nie die uitsondering wees nie. So is ek ook maar deel van die probleem?
Dis wat ek sien as ek net na strome van hartelose inligting en sogenaamde feite kyk. Elke keer as ons ’n storie van deernis hoor of beleef klink daar stemme op: “My geloof in die mensdom is herstel.” Daardie uitdrukking veronderstel dat geloof in medemenslikheid eintlik ons almal se default setting is. Dit raak net deurmekaar as ons aanhoudend toelaat dat soveel ander goed ons knoppies druk. Default settings en knoppies is nie juis menslike beelde nie.
Om saam te werk is nie altyd om met alles saam te stem nie. Ook nie om net te glo wat logies lyk nie. Dis om wyer te kyk as die venster wat ons elkeen se persoonlike algoritmiese orakel van antwoorde vir ons wys.
Paulus maan die Korintiërs aan na ’n hele episode van onenigheid:
“...I can’t tell you how much I long for you to enter this wide-open, spacious life. We didn’t fence you in. The smallness you feel comes from within you. Your lives aren’t small, but you’re living them in a small way. I’m speaking as plainly as I can and with great affection. Open up your lives. Live openly and expansively!...” (2 Cor. 6:11-13, MSG)
Sondag gesels ons verder oor hoe hierdie wyer lewe lyk en hoe ons ons lewens oopmaak daarvoor.
Deur Deon Meiring