top of page

Redding - waarvan en waarvoor?




En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.


Lukas 2:10-11



‘n Engel van die Here verskyn aan herders wat in die oop veld gebly het. Verbeel jou: daar hou hulle niksvermoedend wag oor hulle skape en meteens skyn die heerlikheid van die Here rondom hulle en oorweldig hulle met groot vrees. Is dit nie dikwels so met onverklaarbare, onverwagse, verrassende gebeure waarvoor ons nie beplan het of voorsiening gemaak het nie? Ek hoor hoe hulle uitroep van skrik en iemand skree, “Heerlikheid, ek is bang!” Die engel sê, “Moenie bang wees nie, want KYK …” Moenie jou oë toeknyp wanneer jy bang is nie; jy moet juis kyk. Staar dit in die gesig. Sit jou glo voor jou bang. Die woord “behold” sou gepas wees hier. Neem dit in oënskou, kyk weer, laat die prentjie toe om jou gedagtes nuut te maak, skenk aandag, moenie wegdraai en dieselfde (so gemaak en so gelaat staan) bly nie.


Is daar dalk iets in jou lewe waarvoor jy op die oomblik jou oë toeknyp? 

Waarvoor jy dalk bang is of bloot net nie wíl sien nie? 

Miskien iets wat die gewone, vertroude gang van dinge ontwrig? 


Hoor hierdie woorde, nie net vir herders nie, maar vir jou: 

moenie bang wees nie; kyk …


… ‘n goeie tyding van groot blydskap vir die hele volk …


Dit tref my nou hoe radikaal hierdie woorde werklik is, veral as mens jou “deursnit” ateïs of kerkafvallige vandag sal gaan vra hoekom hulle nie kan of wil glo of saam met ander mense glo nie. 


Ek dink vir baie mense is die kerk sinoniem met slegte nuus (teenoor ‘n goeie tyding) of groot hartseer (in plaas van groot blydskap) en veral net vir die uitverkorenes of die handjievol of ‘n eksklusiewe groepie (nie vir die hele volk nie). Iemand wat ek liefhet en wat in ‘n organisasie werk waar sy baie met Christene en “heidene” (in haar woorde) te doen het, se opsomming nou die dag was (soos die bekende meme): “There’s no hate quite like Christian love.” 


Hoe laat dit jou voel? Skaam? Kwaad? Selfgeregtig?


Dit maak my hartseer. Hoe kon ons dit so verdraai? As verlossing nie vir die hele volk is nie, is dit nie verlossing nie. Dan’s dit nie goed nie en dan maak dit niemand bly nie, behalwe as jou oënskynlike blydskap eintlik net schadenfreude is.


Hoe kan jy in hierdie Kersgety werklik ‘n getuie wees hiervan: ‘n goeie tyding van groot blydskap vir almal? Hoe sou dit prakties lyk in jou lewe? 


As jy saam met Job kan getuig:


MAAR ek, ek weet: My Verlosser leef;en Hy sal as laaste oor die stof opstaan …


Waarna word jy uitgenooi?

Waarvan sal jy jou eerder weerhou?

Hoe kan jy redding – heilsaamheid – verwelkom en deel met ander hierdie seisoen?


… dat vir julle vandag gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.


Die geboorte van Jesus, die mensword van Christus, was reeds die redding, want in Jesus se geboorte het God alreeds gesê: dit is goed om mens te wees, en God was aan ons kant.


All shall be well,

and all shall be well

and all manner of things 

shall be well.

For there is a force of love

moving through the universe

that holds us fast and will

never let us go.


Julian of Norwich


‘n Poëtiese uitdrukking van Kol. 1:17 wat sê, “en Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.” In Him All Things Hold Together.


Daar's 'n belangrike komma uitgelaat in een van ons oudste kindergesange:

Jesus min my salig lot. 


Jesus is nie lief vir my “later” (eendag, in die hemel, hiernamaals) nie; Hy’s lief vir my nou en hier. Hy't nie net gekom vir my Plan B en nou moet ek net uithou terwyl Plan A nog uitspeel nie. Jesus min my, salig lot.


Jesus min my - dit is my heil, dis my redding, dis my salige lot. Nou.

Hy is gebore - het vlees geword, het bloed en vel gekry, het "in ons buurt inbeweeg" om vir die mense te kom wys dis (ook) goed om mens te wees. 

Jesus Christus het 'n bloudruk kom skep van hoe verlostheid - vryheid, redding, heil - in hierdie benoudheid - ingeperktheid - kan lyk.


Word vir ‘n paar oomblikke stil in die dollewarie van christmas shopping en jaareindfunksies en lysies aftiek en en en …


en bid hierdie kort gebed saam met die digter W.L. van der Merwe. As jy hou van somme, sal dit vir jou sin maak. As jy nie hou van somme nie (en metafore miskien meer jou ding is) sal dit vir jou nog meer sin maak. 



Optelsom


Jesus min my

tel my op

maal my, deel my

tot ek klop



- Frieda van den Heever

bottom of page