top of page

Pyn: die baarmoeder van lof



In Johannes de Villiers se boek Meer as jou seerkry: groei as jy stukkend is skryf hy:

“Daar is ‘n ou Indiese gesegde dat teenspoed voel soos om deur twee pyle in dieselfde wond getref te word. Die eerste pyl se naam is pyn, die tweede een is swaarkry.


Pyn, die eerste pyl tref jou as iets verkeerd loop – jy stamp jou motor, die haarkapper sny jou kapsel skeef, die verkeerslig is rooi, of iets veel ernstigers gebeur. Dié soort pyn maak seer en is ‘n onvermydelike deel van almal se lewe.


Swaarkry, die tweede pyl, is egter wel vermydelik. Dis die ellende wat ons tref as ons die eerste pyl probeer wegwens of ontken. “Ek mag nie so voel nie, dit maak my ‘n swakkeling.” “Ek wens dit het nooit gebeur nie.” “Wat het ek gesondig dat dit so swaar moet gaan?” Dié soort gedagtes doen weinig om die situasie te verbeter; trouens, hulle voeg verwyt, bitterheid en skuld by die pyn wat jy reeds beleef.”

Dit herinner my aan wat my pa een keer vertel het na hy by ‘n tannie besoek gaan aflê het in die hospitaal op haar sterfbed: Hy het vir haar gevra of sy baie pyn het en sy het geantwoord: “Nee, Dominee, dis baie seer, maar ek het geen pyn nie.” Ander woorde vir dieselfde beginsel of slotsom.


Enige mens wat al die omsluitende druk van ‘n donker bui of pyn geken het, kan dankbaar wees vir die openhartigheid én moed van die mede-lyer in die Psalms en Psalm 77 is geen uitsondering nie. Dit lyk byna soos twee psalms in een: een van inwendige stryd en een van troosryke herinnering. Of soos twee verskillende mense wat dit gesing het. Die toonaard verskuif drasties van mineur na majeur in ‘n paar akkoorde. Van waar hierdie verskuiwing? Nee, groter: hierdie transformasie.


Hoe word pyn die broeigrond van lof?

Jy het seker al die uitdrukking gehoor: Beautiful people don’t just happen. Hulle gebeur nie net nie, hulle word gevorm. Dit gebeur met hulle. Aan die ander kant is daar egter ook mense met wie dit gebeur wat nie uit hierdie persoonlike pyn én swaarkry wéér gebore kan word nie, wat swaarder en swaarder kry en dieper en dieper ingesuig word in hierdie maalkolk van ellende, wie se lewe nie ‘n loflied word nie.

Wat is die geheim? Is dit ‘n geheim?


Die alchemie wat in Psalm 77 openbaar en waaroor ons Sondag gaan gesels, word so deur Walter Brueggemann beskryf: “The praise has power to transform the pain. But conversely the present pain also keeps the act of praise honest. As praise recontextualizes pain, so pain refocuses praise.”

Omvormde pyn. Eerlike lof.


Die Psalmdigter, soos Israel (en Jakob wat Israel geword het) weet: Pyn is ‘n teken dat “ek” ‘n “ons” nodig het en dat “ons” ‘n U nodig het.



- Deur Frieda van den Heever

bottom of page