top of page

Psalms: Leer ons bid

Die Psalms is nie ’n gids vir perfekte gebede nie — dit is ’n padkaart om teenwoordig vir jouself en God te wees. Dis die plek waar jy nie net vra nie, maar ook kla, wag en word — met lyf en siel. Dis nie ’n gekla om kla se onthalwe nie,  maar waarheid wat woorde vind.   


In Psalm 73 glip die voete, die hart word bitter, die niere is deurboor. Daar leer jy: emosies is nie gedagtes nie – dit woon in jou lyf.  Dis gebed wat nie begin in die hemel nie, maar in die gebewe van jou borskas. Kathleen Norris sê: Jy bring nie net jou Sondagsklere nie — maar ook jou vuil wasgoed: “Jy bid met wat in jou mandjie is.”

 

En só leer jy om sonder skaamte te vra, sonder vrees te kla, en sonder sekerheid te wag.

 

In stilte.

 

In God.

 

Gebed is nie 'n blote versoeklys, 'n inkopielys vir ‘n hemelse bestelling waarop ons geregtig is nie. Nee, dit is 'n heilige ontmoeting. Ons staan nie voor 'n God wat oortuig moet word nie, maar voor Een wat ons kan toelaat, om ons hart in Hom te laat rus. Die Psalmis se reis in Psalm 73 vind nie sy einde in antwoorde nie, maar in teenwoordigheid: “Totdat ek in die heiligdom ingegaan het.” Dié heiligdom is nie van klip of goud nie, maar die stille vertrek van die hart. Die plek waar ons saam met God die lewe kan sien.

 

Soos die Psalmis sê: “Vir my is die nabyheid van God goed.” (Ps. 73:28)

Dis genoeg.

 

 En dis waar gebed begin.

 

 

"Discomfort is the price of transformation. The soul must sit with what it cannot fix."

Ronald Rollheiser

 

"You have to dare to let your pain come to the surface and be faced without fear. Then you will discover that underneath the pain is not death, but God."

Henri Nouwen



- Theo Geyser

bottom of page