top of page

Psalm 23: Die Here Verkwik My Siel


Ons vergeet soms dat die Psalms Hebreeuse gedigte is. Ons wil hulle baie keer uitmaak as letterlike geskiedkundige tekste, maar hulle is meer kompleks en dieper as dit. Die skrywers het ook met die woorde gespeel, net soos ons digters vandag, en daar is gereeld ‘n dieper betekenis weggesteek in ‘n Psalm as ons dit noukeurig ontleed.


Ek weet nie of jy dit al agtergekom het nie, dalk het jy, dat die oogpunt van die skrywer verskuif in die helfte van Psalm 23. In die eerste helfte van die Psalm praat die skrywer in die derde persoon, OOR God. “Die Here is my herder, Hy laat my neerlê.. Hy verkwik my siel” en dan in die middel, in vers 4 verskuif dit. “Al gaan ek deur ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my... U stok en U staf dié vertroos my. U berei die tafel voor...”Vanaf vers4 praat die skrywer in die tweede persoon, dit wil sê MET God.. Hy spreek God direk aan.


Die Psalm in Hebreeus het presies 26 woorde voor die “U” in vers vier, U IS MET MY, en presies 26 woorde na dit.


Alles draai om die U.


U is met my is die middel van die Psalm, en ook so is dit in die middel van ons lewens.


God is met ons. Ons is nie alleen hier onder nie. Die hele evangelie gaan daaroor dat GOD met ons is, die is die goeie nuus. Jesus is genoem Emmanuel, wat beteken God is met ons. John Wesley, die bekende prediker, se laaste woorde was:


“The best of all is, God is with us.”


God weerhou nie alle kwaad van ons nie, God manipuleer nie alle omstandighede dat alles ons pas nie.


MAAR God is MET ONS, en dit is al wat saak maak.


Hy is die een wat ons siel verkwik, wat ons siel genees.


Kom kuier Sondag 17:00 saam by InVia Kaapstad, waar ek meer gaan gesels oor Psalm 23. Daar sal ook kinder aktiwiteite vir klein kinders wees tydens die diens.

bottom of page