Paasfees: 'n Doodloopstraat of 'n Kruispad


Dit is weer Paasfees en ek is so bly ons kan die eerste keer in twee jaar in persoon saam wees! Tog voel dit op die stadium of net ek en die personeel dit gaan bywoon omdat die meeste van julle reeds een of ander Paaskuier beplan het! Covid se inperking kry nou behoorlik pakslae. Ten minste is daar In Gemeen, ons aanlyn-byeenkoms, waarby julle kan inval.


Vrydag gaan ons stilstaan en reflekteer oor die beeld van Christus aan die kruis. Wat sou Johannes bedoel het as hy sê: "They will look upon him whom they have pierced." (Joh. 19:37). Dit is woorde wat hy leen uit Sag. 12:10 wanneer hy sê dat ons na die een sal kyk wat doodgemaak is. Hoekom kyk? Waarna kyk? En, wat sien ons wanneer ons kyk? Wat verteenwoordig die beeld?


Daar was daardie dag ‘n legio menings oor wat die beeld van die een wat hang aan ‘n kruis beteken. Was hy ook ‘n rower? Politieke bevryder? Kwaadstoker? Geestelike leier? Of ‘n kansvatter? Ons gaan kyk na een van die beelde in Johannes 12:32 wat ons uitnooi om reg na die kruis te kyk. Jy gaan altyd twee goed sien, ‘n DOODLOOPSTRAAT of ‘n KRUISPAD. Die einde wat niks beteken nie, of eerder nuwe begin?


Sondag kuier ons met twee beelde: ‘n Grafsteen en geslote deur. Pyn veroorsaak die toemaak en wegkruip van alles wat my lewe seergemaak het. Soos die dissipels kruip ons ook eerder weg agter geslote deure, omdat my hart toegeslaan het. Die dissipels wou weet waar is die grafsteen, en niemand weet hoe dit weggerol is nie. Dit is presies wat ‘n opstanding is! Dit is God se werk. Jesus het nie self opgestaan nie, God moes dit doen en elke menslike poging sal nooit die opstandings kan bring wat ons almal nodig het nie! Die mooi is dat God breek deur die deure van ons innerlike weerstand en maak dit oop. In Johannes 20 blaas hy oor die dissipels. En dit is hoe die deure van ons harte weer oopgaan!


Die grafsteen en deur wat oopgaan was onsinnige praatjies genoem. Jy kan dit maar noem ‘te goed om waar te wees!”


Welkom by die opstanding!


Resurrection is not just a question of one day, after death, rising from the dead, but it is also about daily rising from the many mini-graves within which we so often find ourselves.


Ronald Rolheiser



- Deur Theo Geyser