top of page

opstanding



"...wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;"


As jong seun het ek hierdie belydenis elke Sondag in die Klipkerk in Heidelberg opgesê. Soms as ek dit hoor dink ek terug aan die ongelooflike mooi kerkie, die trappe, en ek sien die dominee op die hoë preekstoel.


Belydenisse help ons om die kern van ons geloof te verwoord. Ek onthou ‘n paar jaar terug toe Brian McLaren hier op Stellenbosch by die Kweekskool gesê het dat ons nie reg is om die Bybel te lees voordat ons nie die Bybel in een sin kan sê nie. My een sin van die Bybel is: God wys sy liefde en omgee in Jesus en nooi ons uit om dit te leef. As ons nie alles deur dit kan lees nie, is dit nie die moeite werd nie!


Die Apostoliese geloofsbelydenis probeer ook om die kern van ons geloof in die Bybel te verwoord. Ons moet onthou dat daar ook ander belydenisse voor hierdie een was, wat byvoorbeeld nie die maagdelike geboorte genoem het nie asook ander fyner nuanserings wat eers later bygevoeg is. 'n Mens kan dit eerder twyfel-belydenisse noem waar ons probeer sin maak en Christus probeer verwoord binne die tyd en vraagstukke waarbinne ons leef.


Die kern van die belydenis help ons om die lyding, dood en opstanding as een te sien. Lewe en dood gaan saam. Soms word die een ten koste van die ander beklemtoon. Protestante gee Goeie Vrydag groter prominensie (ek kon nooit verstaan waarom die kerke vol is op Goeie Vrydag, maar leeg is op die Opstanding nie) en die Grieks Ortodokse tradisies weer aan die opstanding.


Die belydenis van dood en lewe word verbind met die frase: "ter helle neergedaal het". Ons is onseker wat dit presies beteken. In Suid-Afrika het die NG Kerk die woorde verander om klem te lê op die feit dat Jesus in die drie dae ‘hel’ toe is en die Gereformeerde Kerk dat Jesus slegs 'n helse pyn moes verduur.


Die beeld is belangrik. Die frase "ek gaan deur hel", wat baie van ons nou beleef, word in die belydenis verwoord. Jesus was voor hierdie gebeurtenis reeds in plekke waarin mense verwerp en uitgesluit was, vasgekeer was in die hel van die lewe. Net soos wat Hy dit in die lewe gedoen het, doen Hy dit nou in die dood. Hy gaan as oorwinnaar na die doderyk en Petrus sê hy verkondig die heilsdade van God.


Daar is 'n mooi kunswerk van Holman Hunt in die St. Paul se Katedraal in London, waar Jesus na die opstanding aan die buitekant van 'n deur staan waarin die dissipels wegkruip. Die dissipels is vreesagtig, verwond, terneergedruk en gaan letterlik deur hel. Buitekant is daar nie 'n handvastel aan die deur nie en Jesus kan nie binnekom nie. Dan weet ons uit die Bybelse verhale Hy loop deur mure, binne-in hulle vrees en wegkruip in, en gee hulle nuwe hoop en lewe deur sy vrede in hulle te blaas.


Net so kan ons wegkruip in ons pyn, en te bang om die deur van ons lewe oop te maak vir enige een. Hoeveel van ons voel tans dat ons lewe buite die bestek van 'n groter omgee, en nabyheid van God! Elke plek waar God nie teenwoordig is nie, word hel. Gelukkig maak Jesus self die deur oop, al is die handvatsels van ons harte af.


Jesus kan nog steeds ter helle neerdaal en deur die mure van ons hart die vrede bring wat die chaos van ons lewe terugroep na orde!


Geloofsoefening vir die dag


Staan voor 'n toe deur. Vra die Here en raak bewus wat is die deure waarmee jy jouself toesluit van ander, of selfs van Hom. Maak dan die deur oop, en loop deur in die wete en uitnodiging dat Jesus elke deur van vrees en onsekerheid kan oopmaak!


Vir gesinne (of enige een wat wil):


1. Paasverhaal:

Pak die volgende items uit sodat almal dit kan sien:

- ‘n paar sente (Judas wat Jesus verraai vir ‘n paar muntstukke)

- doring (hulle sit vir Jesus ‘n doringkroon op Sy kop)

- kruis (kan die kruis gebruik wat kinders gemaak het, of enige kruis. Hulle hang Jesus aan ‘n kruis tussen 2 diewe)

- spyker (hulle het Jesus se hande en voete met spykers aan die kruis vasgekap)

- bakkie met asyn (toe Hy dors is gee hulle vir Hom asyn ipv water)

- klip (toe Hy dood is word Hy in ‘n graf neergelê. Daardie tyd was grafte ‘n gat in ‘n rots met ‘n klip wat voor die graf gerol is. Wys prentjie van gister.)

- hol paaseier (gesels eers oor kruisiging hier onder voordat julle paaseier breek…


Vir kleiner kindertjies: gebruik die bogenoemde items en vertel vir hulle die verhaal van Jesus in jou eie woorde. Laat hulle aan die items vat, voel hoe skerp die doring is, die asyn proe ens sodat dit nie net abstrakte woorde of beelde is nie.


Vir groter kinders wat reeds die storie ken: laat hulle self die items in volgorde plaas en vertel waar dit inpas in die verhaal van Jesus se kruisiging.


NB: voor julle oor die hol paaseier gesels, vra eers:


Hoekom is Jesus gekruisig?

Almal van ons maak foute, niemand is perfek nie. Jesus het AL ons foute, swakhede, dinge waaroor ons skaam is – saam met Hom laat doodgaan op kruis. Ek hoef nie meer skaam te wees nie, Jesus het gewys Hy is lief vir my net soos wat ek is! (Alles wat ons Vrydag op die kruis vasgespyker het.)

As julle nog al die papiertjies van Vrydag het, kan julle dit nou verbrand of opskeur om te wys dat dit weg is.


Hoekom het Hy dit gedoen? Omdat Hy BAIE lief is vir my – Hy wys vir ons Hy is sterker as al die lelike dinge op aarde – haat, steel, doodmaak, jaloesie ens.

Jesus het dus doodgegaan om ONS te help, omdat Hy BAIE lief is vir ons! Ons kan nie alleen hierdie lelike dinge in en om ons wegvat nie, maar Jesus – wat IN ons bly, kan!

Alles wat my keer dat ek bewus is van Jesus wat in my bly, het Hy kom wegvat toe Hy gesterf het vir ons, en opgestaan het!

(NB NB NB – Jesus het ons LIEF! DIT is hoekom Hy gesterf het… nie omdat Hy God se “straf” gedra het wat eintlik vir ons bedoel was nie…)


Maar hierdie is gelukkig nie die einde van die storie nie…

Wat beteken hierdie paaseier? Wat is binne-in die paaseier?

Die paaseier is hol, leeg – want die graf is leeg. Jesus het opgestaan. Hy is nie dood nie.


Hoe weet ons Hy leef regtig vandag, hier?

Noem bietjie op wie is almal vir jou lief? (Ma, Pa, ouma, oupa ens).

LIEFDE wys vir ons Jesus leef! Want God IS liefde! Almal wat vir jou lief is – wys God bestaan en leef regtig – dis Hy wat deur hulle liefhet. Ons kan nie liefhê uit ons eie uit nie – dis God wat in ons almal is en deur ons liefhê.

Ook: God is oral om ons, in ons – ons sien Hom ook in natuur!


2. Aktiwiteit:

Verf of versier die paaseiers as herinnering dat Jesus nie meer in die graf is nie. Hy leef binne-in elkeen van ons!


Herhaalgebed


Hy leef en het opgestaan!


Geskryf deur Theo en Wilma Geyser

bottom of page