top of page

Op 'n punt van Orde


Op ‘n punt van orde…. dis iets wat jy vandag bykans in elke parlementsvergadering hoor. Die punt van orde is belangrik want dit kan die chaos en wanorde troef. Grense en reëls beskerm die bestaansdoel van enige iets, en daarsonder sal die lewe slegs uit chaos bestaan.


Enige iets wat buite orde is, veroorsaak wanorde. Wanorde het weer ‘n ingeboude meganisme wat homself korrigeer en ‘n nuwe herordening tot stand bring. As daar byvoorbeeld chaos in die parlement uitbreek word nuwe reëls gemaak om daardie wanorde te elimineer. Die natuur leer ons ook hierdie patroon. Daar kan geen somer bestaan sonder ‘n herfs, winter en lente nie. Ekonomie leer ons ook dat die markte hulleself korrigeer.


Die geestelike pad loop ook so.


Om Jesus te volg beteken dat ek hierdie siklus sal loop. In Walter Brueggemann se woorde:

Our life of faith consists in moving with God in terms of

a. being securely orientated,

b. being painfully disorientated; and

c. being surprisingly reorientated.”


Ons gesels Sondag oor orde. Dit is tog immers die eerste ding wat jy as kind leer, en daarom begin die Bybel ook seker met die wet. ‘n Kind moet dit leer om sy egosentriese bestaan te herken en ook te tem. Dit is ook nie anders met ons nie. Dit reguleer ten diepste ons identiteit en verhoudinge. Almal het ‘n plek om op te staan nodig, ‘n plek om van uit te gaan en ook om na toe terug te keer. In tye wat verander het elke anker ‘n punt nodig waaraan ons kan vashou.


Waaraan hou jy vas?


Geskryf deur Theo Geyser


bottom of page