top of page

Oor vasklou en onthou



Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.


Mat. 13:44


My pa en sy broer vertel nou die dag vir my van Antie Gerrie, hulle ma se suster. Sy het op ‘n plaas naby hulle gebly en ek kan onthou sy was nogal grênd … vir Pofadder. Haar klere het in sakke gehang in haar kaste en die uitrustings het altyd bymekaar gepas – van kop tot tone (hoede en polvye daarmee saam). Wat ek nie geweet het nie, was dat Antie Gerrie ‘n stofjas gehad het. Nie net ‘n stofjas nie, ook ‘n stofkeppie en stofskoeisel. Jy sien, Antie Gerrie moes omtrent vyf plaashekke op pad dorp toe oopmaak en die stofpak moes haar beskerm teen … wel, teen die stof. So op pad dorp toe het sy redelik belaglik daarna uitgesien, maar wanneer sy uitklim en haar stofpak uittrek, was sy bo-stink-onder-blink. Asof sy nooit uit stof gekom het of tot stof sou terugkeer nie.


Dit vat fyn beplanning, baie energie en groot moeite om die stof te ontkom. Om jou voorkoms stofvry te hou. Om jou stoflikheid te ontken.


Jesus het gesê: “Moenie julle van die môre tot die aand en van die aand tot die môre bekommer oor wat julle sal aantrek nie.”


Sy volgelinge het gevra: “Wanneer sal u u aan ons bekend maak en wanneer sal ons u sien?”


Jesus het geantwoord: “Wanneer julle sonder om skaam te wees julle klere uittrek en dit op die grond neergooi en soos kindertjies daarop trap; dan sal julle die Seun van die Lewende sien en geen vrees meer hê nie.”


Evangelie van Thomas Logion 36-37 


Wanneer julle ophou om vas te klou aan die dinge en die mense en die ringe en die lense …


Wanneer julle mekaar ont-hou …


Wanneer julle onthou dat julle uit stof is en tot stof sal terugkeer …


Wanneer julle onthou dat Liefde al is wat van ons gaan oorbly …


Wanneer ons mekaar sonder skaamte in die oë kan kyk omdat jou lot my lot is: omdat jou lewe, soos my lewe, ‘n asem lank is …


dan sal julle My sien en nie meer bang wees nie.


Mens raak mos vinnig gewoond aan die magnete op jou yskas. Die foto’s. Die eens betekenisvolle herinneringe. Gister het ek skielik onthou ek is honger en net voor ek die yskas oopmaak, het my oog geval op die boekmerk wat my vriendin laat maak het vir my man se roudiens. Reg onder die foto van hom – laggend, met helder oë – staan die woorde, “Nou ont-hou ons jou.” Ek weet wat ek wou bedoel met daai woorde en nog glad nie kon toe ek dit geskryf het nie. Hierdie reis se kennisgewing lees: “Maak vas. Buckle up. Ons moet laat gaan.” 


Hierdie is ‘n bumpy ride. Hierdie lewe is ‘n wankelrige besigheid. As jy nie leer branders ry nie, gaan dit neuk. As jy net op vaste grond kan staan, gaan jy meestal jou balans verloor, val en bly lê. 


Lydenstyd is nie net ‘n simboliese tog van veertig dae saam met Jesus die woestyn in nie; dis ook die veertig jaar saam met die Israeliete in die woestyn. Bevry van slawerny en toe die baie lang pad na vryheid gevul met onsekerheid, dors en hartseer oor alles wat verlore gegaan het in die rewolusie. Toe die struggle van die wilderness nie meer deur denial (daai rivier in Egipte) weggestoot kon word nie, toe hulle ook die stof en die leegheid in hulself in die gesig moes staar, het hulle begin smag na die tronk wat Egipte was. Hoe ongenaakbaar sterk is die greep van sekerheid – om met klinkklare duidelikheid te weet wat aan’t kom is, hoe grusaam en eensaam daardie lot ookal is. 


Een van my gunsteling skrywers, Cole Arthur Riley, skryf in haar boek Black Liturgies – Prayers, Poems and Meditations for Staying Human (en as jy jou siel wil treat met iets asembenemend, lees ook This Here Flesh van hierdie skrywer):


Perhaps God knew that part of liberation is confronting anything you might hunger for more than it. Will you cry out longing for the chains that once held you? The wilderniss is uncharted, and humans are prone to willful amnesia. We’d rather forget and return to bondage than remember and wade in the unknown. We grow numb.”


Assata Shakur het gesê, “People get used to anything. The less you think about your oppression, the more your tolerance for it grows … But to become free, you have to be acutely aware of being a slave.”


Jy moet onthou om te kan ont-hou. En hoe vryer jy raak, hoe harder word jou honger vir vryheid. Hoe klink jou honger? Wat is die fluistering van hunkering wat jou dryf?


We are the hollow men

We are the stuffed men

Leaning together

Headpiece filled with straw. . . . 

Those who have crossed 

With direct eyes, to death’s other Kingdom

Remember us – if at all – 

Not as lost violent souls, but only

As the hollow men

The stuffed men.


T.S. Eliot


Ons onthou dat ons hol is en dat ons vol is. Nie verlore nie, nie gewelddadig nie. Net hol. Net vol. Volgestop met strooi, soos voëlverskrikkers. Staangemaak op die saailand waar die skat toe nou nie begrawe is nie. Om wat weg te jaag? Die voëls? Vreemd hoe ons dink dis beter om ‘n ten volle geklede statiese voëlverskrikker te wees as ‘n kaal dansende mens.


Vir veertig dae in aanloop tot die onthou van Christus se dood, wy ons ons toe daaraan om ons kettings te onthou. Ons maak ons tuis in die wildernis – in die liminale ruimtes waar bevryding begin het, maar hartseer en honger ook nog bly. Ons laat wankel dit wat kan wankel omdat ons onthou dat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het. 


Do you see what we’ve got? An unshakable kingdom! And do you see how thankful we must be? Not only thankful, but brimming with worship, deeply reverent before God. For God is not an indifferent bystander. He’s actively cleaning house, torching all that needs to burn, and he won’t quit until it’s all cleansed. God himself is Fire!


Heb. 12: 28-29 MSG 


Ons kyk met oop oë na al die dinge waaraan ons vasgespyker is. Dis dalk nie toevallig nie dat die wortelwoord van attachment die Franse selfstandige naamwoord “spyker” of die werkwoord “vasgespyker” is. Ons sien Christus aan die kruis vasgespyker, ook in die plek van ons verknogthede.


Sheila Cussons se gedig kom nou by my op:


My lyf waarwel ek gaan

ín in 'n sengende verlies

ín in 'n vlymende vreugde


want nou gaan ek verstaan

die prag van God se rede

die prag van God se genade


wat dié gemis sal omskep

in iets wat ek meer begeer

as wat ooit begeerte was


ter wille van 'n wêreld in pyn

want wat is die verlies van jou

anders as 'n liggaam

gekruisig


wat my so begeerde ontbering

spyker vir spyker 

spyker vir spyker 

ontspyker


ek gaan in 'n vreugde in

'n seëvierende vreugde in

en die sien wat die sien is van God


spyker vir spyker ontspyker

spyker vir spyker ontspyker

spyker vir spyker ontspyker …


James Finley sê dit so in ‘n video waar die vraag aan hom gevra word oor wat Lent vir hom is: “We want to fine tune our awareness of God’s infinite love and ask for the grace to live in fidelity to this awareness.” En toe val hy homself so genadig in die rede: “OR to fine tune the awareness and ask God for the grace to appreciate and understand the ways we are not able to be faithful to the awareness.”


Ons eindigheid.

God se oneindige liefde. 



- Frieda van den Heever

bottom of page