top of page

Ons Vader: Vergewe ons…


Christie Gouws het verlede week in die Vrye Weekblad iets verwoord wat baie mense mee sukkel. Verhoudings wat skeefloop. In haar artikel “Van skerpioene en brood” verwoord sy die pyn wanneer ‘n mens vir brood vra maar ‘n skerpioen kry. Brood verteenwoordig dit wat ons saambind, versterk en lewe gee in verhoudings.

En, dit is soms presies hierdie brood wat in ons verhouding met God en ander ‘n skerpioen word.

David se brood wat hy met Agitofel, sy Wyse Gryse gedeel het, het ‘n skerpioen geword: “Selfs die man wat met my in vrede lewe, op wie ek vertrou het, wat my brood eet, het die hakskeen teen my opgelig”. (Ps 41:10). Die pad is besaai met Agitofels vir jou en my. Dit was nie anders in Jesus se lewe nie. Jesus haal die storie van David se hartseer aan en sê dit oor Judas: “...hy wat saam met my brood eet het sy hakskeen gelig...” (Joh 13:18).

Wat doen jy as die hakskeen jou stukkend trap? Of as die angel van verskrikking in jou liggaam in boor?

Jesus se raad is behandel dit in die geheim. Deurweek dit met gebed en handel vanuit ‘n diep plek met God. Ons gesels Sondag oor gebed en vergifnis en hoe ons pyn met wysheid moet prosesseer. Vergifnis beteken bloot: Wegstuur. Indien ons die gif nie wegstuur nie, vergiftig ons onsself en ons geliefdes om ons. Jesus verduidelik vergifnis so: “Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde” (Matt 18:18-20).


Haat bind en liefde kan “ontbind”.

Haat volg jou tot in die ewigheid net soos wat liefde dit ook doen…


- Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page