top of page

Ons almal se Vader: LEER ONS BID



Om oor pa’s te praat vandag is moeilik. Ons sukkel om te verstaan wat pa’s behoort te wees omdat ons bittermin voorbeelde het. Die media help nie en nog minder die aaklige nalatenskap van patriargie. Ons godsbegrip word ook deur ‘n vader en ‘n moeder gevorm, wat dit moeilik maak om soms oor God te praat wanneer dit negatief is. In Suid Afrika bly net 33% kinders by ‘n pa en ‘n ma en meer as 40% word by ‘n moeder groot. Naas die groot afwesigheid, nie net fisies nie, maar ook emosioneel en geestelik, doen bitter min mans ego-werk, en bly klein seuntjies wat hulself toedraai in die watte van sekuriteit en ewige jonkheid.

Dit is Sondag Vadersdag en toevallig skop ons af met ‘n nuwe reeks oor gebed waar ons gaan kyk na die Pater Noster (Onse Vader). Miskien is Jesus se beeld van God as Vader presies wat ons nodig het. Om ons eie toksiese manlikheid aan God toe te skryf, of dit te probeer korrigeer deur feminisme is beslis nie Jesus se strategie vir goeie vadersfiguur nie! Onthou dat God staan in elke geval bo ras, geslag, identiteit of kultuur. Dit is slegs menslike beelde wat ons kan help om God binne ons eie menslikheid beter te begryp.

Ons kyk Sondag na hoe Jesus meesterlik ons uitnooi na God as Vader. Soms keer ons eie woorde en hard probeer hierdie ervaring (Matt6:5-7). Wanneer Jode die metafoor van Vader gebruik het, het hulle verwys na God as lewegewende orde. Daarom skroom die Aramese vertaling nie om Vader met “Lewende Asem” te vertaal nie.

Gebed kan ons help om ons vaderswond (Richard Rohr noem dit father hunger) te stil en te genees. Vir die Psalmis is God die Vader van die weeskinders of “father of the fatherless” (Ps 68:5). Die verlies en afwesigheid van ‘n vader kan in die teenwoordigheid van God weer ontdek word.


- Deur Theo Geyser

bottom of page