Ongetem: Dis julle wat die wind
- 3 hours ago
- 4 min read

Swerwers sonder rigting
Soekers wat nooit vind
en eindelik was almal maar
net kinders van die wind
– Koos du Plessis
Ek is ’n kind van die wind. Toe ek klein was het ’n tannie een keer oor Augustus, my geboortemaand, gesê: “O, wanneer die winde waai.” Ek het nie daarvan gehou nie. Die waarheid is, ek is gebore in Humansdorp. Selfs al is dit nie Augustus nie, is die kans goed dat die wind daar waai. So ek ís maar ’n kind van die wind. Of ek soos Koos du Plessis se swerwers sonder rigting en soekers wat nooit vind nie wil wees, is ek nie seker nie. Ek voel nogtans maklik so wanneer ek probeer om iets raak te sê oor God se Gees.
In 2 Korintiërs is een van die groot kwessies wat die brief aanspreek dat daai gemeente op soek is na harde bewyse. Pedigrees of CVs , want hulle is nie meer so seker of Paulus en sy kollegas hulle eerste keuse sou wees vir leiers en predikers nie. Daar’s ander predikers wat hulle deesdae baie meer beïndruk.
Dan antwoord Paulus hulle met iets soos wind:
“Dit is tog duidelik dat julle 'n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees (die woord hier is die een vir wind, asem, waai, blaas) van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense.” 2 Kor.3:3 (1983 Vertaling)
The answer my friend, is blowin’ in the wind… sing Bob Dylan mos. En ek weet dit al te goed. Dat selfs my harde bewyse geneig is om op een of ander manier saam met die wind koers te kies.
Die wind vloei onsigbaar oor die landskap, ja dit buig elke boom, jaag stof op, ruk dakke af, verander die gesig van die see, verander ’n kooltjie in ’n wegholveldbrand…maar dit rig nie ’n banier of baken op en sê: “hier is ek” nie. Dis ons wat daai deel doen. Ons sal nogtans nooit wind kan bottel of oes nie, want dan is dit eenvoudig nie meer wind nie. “Dis julle wat die wind laat waai” is ’n interessante ding om iemand van te beskuldig, want wie kan dit nou eintlik regkry?
Tog kry ons groot dinge uitgerig met die krag van die wind. Al is selfs ons mees elegante pogings nog steeds baie anders as die vryheid van die wind self.
Ons bou seile wat die hemel vol span en ons die aardbol laat platseil. Op daai seile druk ons ons stempels af. Seerowerskedels, landsvlae of een of ander kenteken.
Meer hedendaags: Ons besaai ’n wye landskap met reuseturbines. So groot dat ’n bakkie langs een geparkeer soos ’n ryskorrel lyk. Die landskap, eens vry en oop, word nou geken aan sy mensgemaakte turbines, eerder as die plante, diere en duine wat almal gevorm is deur daardie landskap se heersende wind.
So is dit ook gewoonlik met dit wat ons in die naam van godsdiens oprig om die Gees van God iewers te wil inhok. Ons neig veral na die skouspelagtige, groot vertoon, maar verkieslik ook die soort wat ons suksesvol, herhaalbaar kan inspan en rig, eerder as om toe te laat dat die Gees óns lei.
Tog sê 2 Korintiërs hier op ’n manier: “Dis julle wat die wind…” Dis júlle wat die bewyse is, die Gees skryf op júlle harte.
Hoe lyk dit vir my? Dis ek wat die wind…wat?
Some of the most reliable signs of the Spirit's presence and work will therefore be a certain kind of experience of disruption, on the one hand, and a certain kind of creative freedom, on the other. – Simeon Zahl
Die Beaufort Windskaal begin met ’n see soos ’n spieël en rook wat reguit in die lug opstyg. Dit eindig by ’n orkaan waar die lug vol skuim en sproei is. Soveel so dat die orkaan eintlik al is wat jy kan sien.
So uiteenlopend is die Gees ook, en selfs meer. So blywend is die Gees se teenwoordigheid. Selfs wanneer jy die wind nie eens op jou wang kan voel nie, kan jy kyk hoe die rook trek. As jy sal onthou om dit te doen. Dis ons wat die wind ervaar (of nie).
Die ontwrigting kom selfs in die windstilte by ons uit, want dan is dit veral maklik om dit te bevraagteken. Die ontwrigting en die skeppende vryheid loop saam, al voel dit nie so nie. Lynda Barry skryf oor hoe sy as kind dikwels die begeerte gehad het om skeppend en vry te speel, maar volwassenes het haar verbied of voorgeskryf. Tog, selfs al was sy alleen en vry:
No one stopped me from playing when I was alone, but there were times when I wasn’t able to, though I wanted to…there were times when nothing played back.
Soms is die hunkering al wat ons kan beleef. Die verlange, die longing, is eintlik nie so ver van die belonging af nie om by John O’Donohue te leen. Al wens ek die harde bewyse kan my eens en vir altyd in die regte rigting stuur, is die wind vryer. Soveel so dat ek dalk nie eens die hunkering hoef te verwens nie, maar eerder daar ook God se Gees kan leer ken. Die Gees wat blywend genoeg is, op berge en in dale, in windstilte en die skouspelagtige en alles tussenin. Ja, oral is my God.
Soos Paulus 2 Korintiërs afsluit, nadat hy tog maar gou sy CV ook genoem het, maar hy skryf ook sy dwaasheid op daai CV. Asof hy darem die mense wil herinner om tog net nie by die vertoon alleen vas te haak nie:
(Ek leen by Eugene Peterson se vertaling)
Die genade van Jesus Christus, ons leermeester, die buitensporige liefde van God die Vader en die intieme vriendskap van die Heilige Gees gaan saam met julle wat die wind beleef.
- Deon Meiring




