top of page

Liddorings en genade

7 minutes ago
7 min read

"Jy beny my my blink skoene omdat jy nie weet van die liddorings wat binne-in is nie."

C.J. Langenhoven


Ek is baie lief vir my voete. Nee, miskien is dit bietjie ekstreem. Ek het groot waardering vir my voete. Hulle is nie uitstalgehalte nie, nooit regtig skoukondisie nie, maar as ek dink waar hulle my al gedra het, hoeveel myle hulle op het – I wanna be where my feet are, soos ons dikwels Sondae saamsing. Op Sondae sien julle natuurlik net my “blink” skoene, nooit meer met hoë hakke nie, nie te styf nie – die duur, ugly soort wat pas. Want sien, ek het moerse bunions (ek het tien ander byvoeglike naamwoorde probeer tik, maar almal het vals gevoel). Kom ek vertaal dit mooi: groteske groottoonknobbels. Ek hoor al van ek 8 is dat ek eendag ‘n operasie gaan moet kry vir hulle. Dit loop in my familielyn. Ek sien natuurlik nie kans om vir 6-8 weke van my voete af te wees nie, so ek loop maar aan. Dink nie in die dag daaraan nie. Net wanneer my ma vir my ‘n skottel aandra met epsomsout-en-koeksoda-water. Of as ek in die aand in die bed lê en die knobbels voel klop. Die groter gemors is die druk wat die groottoon op die res van die tone en voet plaas, lei tot pynlike liddorings. As jy nie weet wat ‘n liddoring is nie, goed vir jou. As jy weet, dan weet jy … én daar’s min dinge te “whoo-hoo” vir my, so ek gaan ondersoek ook altyd fisiese goed holisities en raadpleeg bietjie die Chinese medisyne ook. Een bron sê ‘n bunion verteenwoordig “lack of joy in meeting experiences in life” … cool, ek hoor jou. ‘n Ander dat die lewer kwaai verbonde is aan die groottoon en dat dit basies beteken dat die lyf vashou aan woede wat eintlik moet uit … yes, chef. 


Liddorings laat my dink aan Paulus se “doring in die vlees”. Baie mense spekuleer dat dit swak sig was waarna hy verwys het, maar niemand weet regtig nie en ek glo dat die Here dit sou goeddink dat hy dit wel sou neerskryf, sou Hy wou hê ons moes presies weet wat dit is. Miskien om ruimte te laat vir elkeen van ons dorings. Sal nogal eendag vir Paulus wil vra. Vir Paulus en vir Meat Loaf … I would do anything for love, but I won’t do that … wat???!!!


Ons sien mense se skoene. Nie die liddorings nie.

Ons sien iemand se glimlag. Nie sy trane nie.

Ons sien die mooi huis, die goeie werk, die suksesvolle kind, die sterk geloof, die mooi stem, die curated Instagram-foto. Ons sien nie die pyn waarmee sy wakker word, die verlies wat hulle saamdra, die mislukte verhouding wat hy probeer verwerk, die angs wat sy probeer wegsteek, die kind waaroor hulle bekommerd is … die ding waaroor hulle al drie keer, of driehonderd keer gebid het nie.

Jy kan baie mooi skoene dra en steeds seer loop. 


Paulus gaan dalk nie in detail in oor die doring nie, maar hy probeer ook nie sy swakheid wegredeneer of te romantiseer nie. Hy onthul dit en bid vir verligting. En dan kom die antwoord wat hy nie verwag het nie…


“... dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.”


2 Kor. 12


Christus antwoord: Ek gee jou Myself binne-in hierdie pyn. My genade is genoeg. Beteken dit nou die pyn is lekker? Nie, die (lid)doring bly ‘n doring. Die verlies bly verlies. Die seer bly seer. Die beperking bly beperking. Maar dit het nie die laaste woord nie.


As daar een boek is wat die afgelope paar jaar ‘n groot merk op my gelaat het, is dit Oliver Burkeman se “Four Thousand Weeks”. As jy so gelukkig is om tagtig jaar oud te word, het jy sowat 4000 weke hier op aarde. Dis al. Ons is geneig om te dink as ek net harder werk, net gesonder leef, net beter organiseer, beter beplan, die regte app kry, as ek net myself kan optimaliseer … sal ek uiteindelik beheer hê. Maar dis ‘n leuen. Burkeman se sentrale insig is dat ons beperkinge nie probleme is wat opgelos moet word nie; ons beperkinge is ‘n essensiële deel van menswees. Hy noem dit die “paradox of limitation”: hoe harder ons probeer om die beperkinge van menswees te ontsnap, hoe meer gefrustreerd en leeg kan ons word; wanneer ons dit begin aanvaar, word ’n meer betekenisvolle lewe moontlik. Burkeman sê: jy is nie God nie en daarin lê ‘n stuk vryheid. Paulus sê: jy hoef nie God te wees nie en dis genade, kamerade. My eie Godkompleks is meestal nie so eksplisiet soos dié van ‘n Elon Musk nie. Dis effe meer subtiel: Ek moet alles kan hanteer, ek moet almal gelukkig hou, ek moet gesond bly, ek moet my week tot op die minuut beplan, ek moet my foute regmaak, ek moet sterk wees, ek moet beskikbaar wees, produktief wees, nooit uitmekaar val nie … en onder al hierdie sinne lê dieselfde onuitgesproke geloof (of gebrek daaraan): “As ek net hard genoeg probeer, kan ek die menslike toestand (my menslikheid) oorwin.” Maar ek kan nie. En as ek begin begryp dat dit juis in my menslikheid – my gebrek aan selfgenoegsaamheid – is wat God se krag tot volle werking kom, wil ek ook nie meer nie.


Simone Weil gebruik hierdie kragtige beeld: The world is the closed door. It is a barrier. And at the same time it is the way through. Two prisoners whose cells adjoin communicate with each other by knocking on the wall. The wall is the thing which separates them but it is also their means of communication. … Every separation is a link.”


Elke doring kan ‘n toe deur (‘n grens) wees of ‘n deurgang word. Of soos Mary Oliver skryf, “There are many ways to perish, or to flourish.”


Ons dink beperkinge maak ons kleiner, maar beperkinge kan ons eintlik bevry.

Omdat ek nie alles kan doen nie, moet ek kies.

Omdat ek nie almal kan red nie, moet ek leer vertrou.

Omdat ek nie alles kan weet nie, kan ek my verwonder.

Omdat ek nie vir ewig gaan leef nie, word hierdie dag kosbaar.

Omdat ek nie alles kan beheer nie, kan ek leer ontvang.

Omdat ek nie sonder krake is nie, kan ek liefde inlaat.

Omdat ek nie God is nie, kan ek uiteindelik ’n mens wees.


Weer Simone Weil:


“Human existence is so fragile a thing and exposed to such dangers that I cannot love without trembling.”


In die Message-vertaling van 2 Kor. 12, lees dit so:


Now I take limitations in stride, and with good cheer, these limitations that cut me down to size - abuse, accidents, opposition, bad breaks. I just let Christ take over! And so the weaker I get, the stronger I become.


Dit strook natuurlik glad nie met ons “huil-aan-die-binnekant-soos-‘n-wenner”- kultuur nie. Ek luister ‘n podcast met Richard Rohr as gas waarin hy iets openbaar van hoe moeilik dit vir ons is om die “vloei te vertrou”. To trust the flow. Veral vir mans. Want trane vloei. En bloed vloei. Hy sê dan, “If blood flows from a man’s body, it means he’s dying. If blood flows from a woman’s body, it means she can give life.” Dan praat hy verder oor hoe radikaal genade is. Hoe dit die wêreld se wiskunde en die lewe se logika op sy kop draai, hoe dit ons idee van balans versteur, hoe dit ons almal op dieselfde speelveld plaas (en ons like dit nie!), hoe dit ‘n quid pro quo wêreld verwar en ons buite die netjiese boksie van voorspelbaarheid plaas. Genade wat eintlik ‘n vernedering is. Gesig in die stof, grond onder die naels, ‘n shiner wat blink soos ‘n medalje. Eers dan weet ek hoe onbeskryflik groot genade is. Dis die ander ding wat vloei. Lynn Bauman se vertaling van Ps. 103:11 lui so: 


As the heavens reach beyond earth and time,

we swim in mercy as in an endless sea.

Rumi verwoord dit op ‘n manier wat nie vir ons lekker is om te hoor nie. Dis nie hoe ons geleer is om vir onsself soggens in die spieël te kyk en die pep in ons step te sit voor ons vir ‘n bevordering aansoek doen of by ‘n onderhoud instap nie: 


You are so weak.

Give up to grace.

The ocean takes care of each wave

til it gets to shore.

You need more help than you know.


Gee oor aan genade. Hoekom? Omdat dit al is wat genoeg is. Omdat oorgawe aan genade die enigste menslike kondisie is waardeur God se krag volbring word.


Simone Weil skryf in haar merkwaardige boek Gravity and Grace dat gravitasie – swaartekrag – en genade – ligtekrag – die sterkste kragte in die heelal is. Dat dit net genade is wat volgens ander beginsels werk as swaartekrag. 


“All the natural movements of the soul are controlled by laws analogous to those of physical gravity. Grace is the only exception. Grace fills empty spaces, but it can only enter where there is a void to receive it, and it is grace itself which makes this void. The imagination is continually at work filling up all the fissures through which grace might pass.


In order to kill the self we must be ready to endure all the wounds of life, exposing ourselves naked and defenceless to its fangs, we must accept emptiness, an unequal balance, we must never seek compensations and, above all, we must suspend the work of our imagination, ‘which perpetually tends to stop up the cracks through which grace flows. Every sin is an attempt to fly from emptiness.”


Miskien is die doring in die vlees, die swaarkry en swakhede, die liddorings onder die voete, tussen die tone, ‘n soort handbriek om te keer dat ons aanhou weghol van die leegheid. Om te keer dat ek buite beheer raak, dat my wiele heeltemal afkom en dat ek myself te pletter val. Om te keer dat ek die pad heeltemal byster raak. Simone Weil sê eenvoudig, “Heroes wear armour. Saints are naked.”


Wat as die ding wat ek die meeste probeer wegsteek, wegwens, wegmaak, juis die plek word waar ek leer dat ek nie myself hoef te red nie? Dat genade (heel te mal!) genoeg is.


Kyk vir ‘n oomblik na jou skoene.  

Wat dra jy wat mense nie kan sien nie?

Wat is die doring in jou vlees? 

Kan jy daarmee vrede maak? 

Sien jy God se hand daarin? 


Ons is onderhewig aan swaartekrag, maar of eerder én: kan lig-voets loop.

Want: there but for the grace of God go I.


- Frieda van den Heever

bottom of page