top of page

Na die opstanding... met Maria


Nothing is more practical

than

finding God,

than

falling in Love

in a quite absolute, final way.

What you are in love with,

what seizes your imagination,

will affect everything.


It will decide

what will get you out of bed in the morning,

what you do with your evenings,

how you spend your weekends,

what you read, whom you know,

what breaks your heart,

and what amazes you with joy and gratitude.


Fall in Love, stay in love,

and it will decide everything.


- Pedro Arrupe


Mense is dikwels verras dat Christus eerste aan Maria Magdalena verskyn het na sy opstanding. Hoekom? Hoekom níé!? Sy staan in die plek van alle menslike hunkering en almal wat beskou is as "sondaars". Dit lyk amper of al die Marias van die evangelie in haar saamgevat word op hierdie punt van die ontknoping van die opstandingsverhaal. Richard Rohr skryf dat Jesus duidelik hiermee wil sê: "the very failures and radical insufficiency of our lives are what lead us into larger life and love". Asof hy vir al die mans wat vinger gewys het na haar wou sê: Julle is almal verkeerd oor God.

Sy begryp dit, julle nie.


Die gedeelte oor hierdie fassinerende verskyning van Christus aan Maria Magdalena begin met 'n interessante woord. 'n Woord wat elke goeie Afrikaanse onderwyser jou sou leer om nooit 'n sin mee te begin nie, wat nog te sê 'n paragraaf of 'n kortverhaal. MAAR. Wat altyd dui op 'n teenstelling: "MAAR Maria Magdalena het buitekant by die graf gestaan en ween; en terwyl sy ween, buk sy na die graf toe ..." Die vorige skrifgedeelte eindig met die woorde: "EN die dissipels het weer huis toe gegaan."


Die hoopvolle, die moedelose, die gebroke, die geringe in die oë van mense bly agter en word die eerste mens aan wie die opgestane Christus homself openbaar. Heeltemal teen verwagting in. Dit is haar gebrokenheid wat haar na God lei. En so word sy die ikoon en argetipe van liefde self.

Sy begryp dit, julle nie.


MAAR Maria Magdalena begryp dit so volkome dat sy nie wil afstand doen daarvan nie. Sy wil aan Jesus vasklou, hom nie laat gaan nie. En Jesus, vir wie ons gemak of kortstondige geluk nooit die "be-all and end-all" is nie, wat nooit net by intimiteit eindig nie, maar altyd verder gaan - verder leer oor ware metamorfose - leer haar seker die seerste les van haar lewe. Daai mooi seer, die seerste seer van afskeid neem juis omdat ons so lief is vir iemand.


om waaragtig te leef is om die sterflike lief te hê

as jou hart en jou niere, as die asem in jou neus

as die kern van jou tong

en, wanneer dit tyd is om die geliefde liggaam te laat gaan

dit te laat gaan


Antjie Krog (na die woorde van Mary Oliver)



- Deur Frieda van den Heever

bottom of page