'n Sug van verligting
- inviagemeente
- Dec 22
- 3 min read

Wat het jy die nodigste in 2026? ’n Beter land? ’n Beter regering? Ekonomiese momentum? Betroubare verhoudings? Maklik om die lys te maak. Moeilik om dit te kry. As jy ’n Jood in 500 v.C. was—verplaas, ontwrig, sonder tuiskoms—sou jy waarskynlik dieselfde verlang.
En tog, in daardie konteks, begin Jesaja 40 met ’n vreemde bevel: “Troos, troos my volk.” Nie “veg terug.” Nie “verander die stelsel.” Nie “bou die land weer op.”
Maar troos.
’n Ander soort krag.
Maar die Hebreeuse woord vir troos—nacham—beteken eintlik om diep asem te haal, amper soos daardie sug wat jy gee as jy uiteindelik die kar se enjin afsit ná ’n lang dag se ry. Latyn vat dit verder: onder + asemhaal (sub- + spirare). ’n Sug wat van diep in jou opkom en verligting bring.
‘n Gawe wat God kan gee.
Ons dink partykeer troos is net vir mense wat down en out is. Maar dis nie waar nie. Selfs gelukkige mense—mense wat by familie-etes sit, wat ’n projek afrond, wat langs ’n vuur braai—dra daai stil wete in hulle rond dat die die sug in hulle lewe nie een van verligting is nie. ‘n Bekende digter het dit só gesê: "Ek het so lank reeds my wortels laat groei, maar die aarde wil my nie hou nie." Selfs wanneer ons gegrond voel, het ons die versekering nodig dat iemand – ons vashou.
Ons probeer dan ons eie troos maak. Met godsdiens. Met mense. Met plekke. Met ’n glas wyn of twee. Met allerhande goed wat vir ’n rukkie help, maar eintlik net die gat stop. Miskien is dit waar “mistroostig” vandaan kom—uit al die verkeerde troos wat nie hou nie.
Josef en Maria se pad is maar altyd ons pad. Op soek na ’n beter plek, ’n veilige plek waar jy net kan wees wie jy is. Jy dink die Messias hoort in ’n paleis, maar nee—Hy kom in ’n stal. In die moegheid. In die deurmekaargeskuif. In die plekke waar jy nie wou wees nie. En Thomas Merton is seker reg: ons vind God daar waar ons eintlik opgehou soek het.
Dink aan ’n ma met ’n nuutgebore baba. Die kleintjie huil net omdat die wêreld te groot is. En die ma draai hom toe en sê sonder woorde: “Dis reg. Ek het jou.” Miskien is dit hoe God troos werk: nie net om te fix nie, maar om te hou. Nie net om heel te maak nie, maar om naby te wees.
As God praat, troos Hy eerste. Hy weet ’n mens kan nie nuwe planne maak met ’n stywe bors nie. Jy moet eers asem kry. En as daar asem is, dan is daar beweging. Dis hoe verandering gebeur: nie met geweld nie, maar met ruimte. Sy troos skram nie weg van jou geldprobleme of jou slegte week nie—dit sit juis dáár vas waar jy leef en werk en probeer.
My wens vir jou vir 2026 is eenvoudig: mag jy weer leer om diep asem te haal. Mag jy sommer ’n paar keer sug ook—maar daai goeie sug. Die een wat ’n las lig. Die een wat die pad bietjie gelyk maak. Die een wat van ’n klipperige stuk grond ’n sagte voetpad maak.
Geseënde 2026!
- Theo Geyser




