Mites oor genesing: God is nie jou genie nie!
- 5 hours ago
- 2 min read

In my jong dae het ek Zambië besoek as deel van ’n grootskaalse evangelisasieveldtog. As hoof van uitreike in my eerste gemeente wou ek self gaan kennis maak met die mense en werk wat ons as gemeente ondersteun het.
By my eerste veldtog is sowat veertigduisend mense gevra of hulle hemel toe wil gaan — en almal het hul hande opgesteek. In ’n enkele oomblik is hulle as “gered” verklaar. Veertigduisend siekes — en net so vinnig word veertigduisend “genees”. Ek kan nog die wanhoop op hul gesigte sien: mense wat niks meer oor gehad het nie, vasgeklou aan die laaste strooihalm van ’n geloofsgeneesheer.
En ek onthou die spanning in my binneste: die menigte vrae en onsekerhede wat my soms laat voel het asof ek self in ongeloof weggesak het.
Frieda het Sondag 'n woord gegee vir hierdie instink: fixing. Die oortuiging dat die regte gebed, die regte geloof, die regte lewenstyl God kan aktiveer — soos 'n Aladdin-lampie. Dit is nie net 'n kerklike mite nie. Dit is 'n menslike een. Binne die kerk noem ons dit geloofsgenesing. Buite die kerk noem ons dit wellness en optimalisering. Maar die beweging is dieselfde: ons desperaatheid wat homself as beheer vermom.
Die lewe van Jesus ontmasker hierdie mite saggies maar genadeloos. Hy kon nie oral wonderwerke doen nie (Matt 13:58). Hy het nie almal gesond gemaak nie — by Betesda lê 'n groot menigte, en Hy genees een man (Joh 5:3). Hy het soms meer as een keer gebid (Mark 8:24). Hy het aktief wegbeweeg van genesingsverwagtinge (Luk 5:16).
By Betesda staan Jesus in 'n ruimte van kulturele verwarring — Joodse uitsluitingswette, Griekse genesingstempels, Romeinse kommersialisering. Argeoloë bevestig: 'n Asklepiustempel het waarskynlik by die bad van Batesda gestaan. Dit was nie 'n heilige plek nie. Dit was 'n desperaatheidsmark. 'n Genesingsekonomie van skaarste en kompetisie — wie sterker, ryker, of beter was, kon hulp kry.
En die man wat Jesus raak — hy glo nie eers reg nie. Hy weet nie eers wie Jesus is nie (Joh 5:13). Geen geloofsbelydenis. Geen kontrak. Net genade wat hom raak voor hy dit kon verdien.
Merton het geskryf dat ons God se hande soek sonder om sy aangesig te soek. Nouwen het gesê die grootste wonderwerk is nie die verandering van omstandighede nie — dit is die ontwaking vir God se teenwoordigheid in wat reeds hier is.
Ons liggame is ontvang, nie besit nie. Siekte is nie 'n mislukking van selfbestuur nie — dit is die herinnering dat ons geskape wesens is. Stanley Hauerwas in sy boek Naming the Silences stel dit so mooi: "We do not have bodies. We are bodies. And bodies break — not because something went wrong, but because we are finite, and finitude is not the enemy of grace."
Ons gesels weer oor die mites van genesing — en oor die God wat by die swembad staan, sonder ’n kontrak, sonder voorwaardes, sonder ‘ n transaksie, sonder prestasie of verdienste, sonder stelsels van ruilhandel of geloof wat moet meeding.
- Theo Geyser




