top of page

Maak Jesus vry... as Vriend!



Jesus het ‘n paar ongewone gewoontes gehad. Hy verdwyn soms wanneer mense Hom nodig het. Hy maak nie almal gesond nie. Hy weier om antwoorde te gee en dan is een van die grootste aanklagte dat Hy verkeerde vriende het (Matt. 11:19).

Hoe is dit moontlik dat Jesus mense wat sukkel om te glo, en soms skuldig is aan slegte gewoontes, ook sy geliefdes en vriende kan noem?

Hy draai die idee en verstaan van vriendskappe in daardie tyd op sy kop. Net soos vandag, is vriendskappe in die destydse samelewing gesmee deur eksterne kragte. Wat ons dink, aantrek en besit is presies dit wat ons vriendskappe smee. Selektief, waar soort, soort soek en verbruikerisme die lewenskrag van so vriendskap bepaal. Die media speel ‘n groot rol hoe ons aan vriendskappe dink. Elke TV-kanaal en media platvorm het sy eie agenda en ideologie wat jou uniek en anders wil maak. Daarom luister ons nie meer na mekaar nie, en het geen respek vir ware dialoog nie, en enige een wat met my verskil is nie my tyd werd nie.

Welkom tot die opkoms van “Cancel Culture” wat alles vernietig wat nie soos EK is nie. Dit word ook nou ‘n nuwe nasionalisme in baie lande. Nog erger dat jy die tydsgees ook binne die kerk kry, ‘n Jesus-Cancel-Culture waar ons liefdeloos eerder ons dogma aanbid en nie bereid is om die lang pad van vriendskappe te loop nie.

Hiervan moet Jesus bevry word, want sy ongewone gewoontes leer ons iets anders oor wat God van vriendskappe sê. Ons gesels Sondag oor die grootste eer wat jy van God kan ontvang en dit is om sy vriend te word, en ook dit vir ander te wees.

“Ek noem julle nie meer diensknegte nie….maar my vriende…” Joh 15:15


- Deur Theo Geyser

bottom of page