top of page

Liefde is die oog



Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het.

Matt. 28:6


As jy op soek is

na 'n seën,

moenie hier rondhang nie.


Hier

is net

'n leemte,

'n holte,

'n dop

waar eens op 'n tyd

'n seën was.


Hierdie seën

was nie tevrede

in sy gevangenskap nie.


Hierdie seën kon nie verlief neem

met sy isolasie nie,

die onverbiddelike stilte,

die drukkende stank

van dood.


So as dit 'n seën is

waarna jy op soek is,

maak jou eie mond oop.


Vul jou longe

met die lug

wat hierdie

nuwe môre bring


en laat dit dan vry

met 'n uitroep.


Hoor hoe die seën

uitbreek

in jou eie stem,


hoe jou eie lippe

elke woord vorm

wat jy nooit gedroom het

om te uiter nie.


Kyk hoe die seën

terugsirkel,

hoe dit vra

dat jy dit herhaal,

maar harder,


hoe dit jou trek,

hoe dit jou dring,

hoe dit jou stuur

om sy enigste woord

te verkondig:


Opgestaan.

Opgestaan.

Opgestaan.


Jan Richardson (vry vertaal)



Ronald Rolheiser skryf alles wat goed is, alles wat van God is, elke liggaam van Christus, sal op ‘n stadium misverstaan word, gehaat word, vals beskuldig word, die sondebok word en uiteindelik aan die kruis vasgespyker word.


Maar die keersy hiervan word vandag oor en oor bewys: Die kruis word op die end al die tyd getroef deur die opstanding. Wat goed is, sal uiteindelik oorwin. Daarom, al is daar niks binne God se wil wat die kruisiging vermy nie, sal geen liggaam van Christus in die graf bly vir lank nie. God rol altyd die steen weg en nuwe lewe breek deur. Ons hoop is geanker daarin.


Maar hoe gebeur dit? Waar sien ons die opstanding? Hoe ervaar ons opstanding na ‘n kruisiging?


Die Woord is subtiel, dog duidelik hieroor. Die evangelie vertel hoe Jesus se vrouevolgers die oggend van die opstanding op pad was na sy graf om sy lyk te gaan balsem. Wat hulle daar kry is nie ‘n dooie liggaam nie, maar ‘n leë graf en ‘n engel wat hulle troos en uitdaag: “Moenie bang wees nie. Hoekom soek julle na die lewende tussen die dooies? Gaan eerder na Galilea – dáár sal julle sal Hom sien!”


Hoekom Galilea? Wat is Galilea? Hoe kom ons daar?


Ons gaan Sondag gesels oor hierdie plek wat nie net ‘n geografiese plek op ‘n kaart is nie. Dis nie net ‘n pin wat gedrop kan word nie. Dis ‘n penny wat moet drop. Dis ‘n plek in die hart. Die plek waar die droom begin het. Die plek waar jy die eerste keer jou hart voel brand het. Die plek waar Liefde jou binneste laat opvlam het voor ontnugtering die vlam probeer blus het. Die plek waar jy gevind is, ondanks jou blindheid.


When we look at anything through the eyes of love, we see correctly, understand, and properly appropriate its mystery. The reverse is also true. When we look at anything through eyes that are jaded, cynical, jealous, or bitter, we will not see correctly, will not understand, and will not properly appropriate its mystery.

Ronald Rolheiser


Jesus het nie gekies om te sterf nie. Jesus het gekies om aan te hou liefhê en dit het gelei tot sy dood. Liefde was die krag agter sy dood én sy opstanding. Die dood kan nie die liefde verteer nie.


Liefde is die oog!

Hugo van St. Victor



- Deur Frieda van den Heever


bottom of page