top of page

Lent: Wie is ek?


Wanneer dinge min of meer gaan soos wat ek gewoond is daaraan, is dit maklik vir my om te dink ek het nogal ’n greep op die lewe. Ek het darem ’n goeie idee van waar ek is, wie ek is en selfs wie God is. As alles in orde is kan ek maklik en gemaklik lewe. Eintlik word ek mak in my lewe.

Hoekom sou ek dan wou wildernis toe gaan? Wat wil ek maak in die woestyn as ek eintlik ’n netjiese, gerieflike tuin hier in my agterplaas het? Die wildernis is die plek waar ek so uit my diepte is, dat ek vreemd word vir myself en vir God.

W.E.G. Louw skryf: Alles wat genoem word, lééf:

arikriekel, aalwynblom,

jakkalse wat in gate woon

en dassies teen die son.


Dáárom lê ek soms nagte wakker

en vrees ek dat die woord nie kom,

ter wille van rooi jakkalse

en dassies teen die son.

In die wildernis kom ek die woorde en die werklikheid tee waarvoor ek nog nie name het nie. Juis sodat ek die werklikheid waaraan ek vasklou kan laat gaan. Dis nie maklik nie, maar in sommige tradisies word Lent beskryf as die tyd van helder hartseer. Die hartseer wat my help om helderder te sien. Dis hoekom ons in hierdie tyd die wildernis, wanorde en al, verwelkom. Ons gesels Sondag verder daaroor.


- Deur Deon Meiring

Comments


bottom of page