Lent: Om welkom te heet
- inviagemeente
- Mar 27
- 5 min read

Daar’s mense by wie ek net eenvoudig welkom voel. Hulle hoef nie eens teenwoordig te wees nie. Die blote gedagte aan hulle of as ek hulle naam iewers sien, vul my met ‘n diep tuiskoms. Ek dink dit het veel meer te doen as die gawe van gasvryheid. Dit het alles te make met ‘n lewe wat geoefen is in aandag skenk, laat gaan en oorgee aan God in die teenswoordige oomblik van jou daaglikse lewe.
Ons bid dikwels die Welkomgebed by InVia. So dikwels dat ek dit uit my kop en in my hart ken. Dat my wit kneukels op die stuurwiel in die verkeer soms eers stram, maar mettertyd meegee wanneer hierdie gebed uit my selle opstaan. Die eerste “Welkom” begin gewoonlik met ‘n “F...” en klink meer soos “Felkom” maar dis hoekom dit drie keer herhaal word. As jy al jou free minutes opbel na Telkom, werk dit ekstra goed. Ek het gewoonlik een nodig vir God (Lewe), een vir ander mense en ‘n ekstra een veral vir myself.
Welkom, welkom, welkom.
Ek verwelkom alles wat vandag besoek kom aflê
omdat ek weet hulle is U gesante vir my genesing.
Ek verwelkom alle gedagtes, gevoelens, gesigte en gebeure.
My begeerte na beheer en mag– dié gee ek oor vandag;
my drang na aanvaarding, status en plesier – dit laat ek hier;
my verlange na oorlewing en sekuriteit;
die druk om enige gedagte, gevoel, gesig, gebeurtenis, – selfs my eie geskiedenis – te verander, ek bring dit alles voor U.
Ek maak myself oop vir U liefde, U teenwoordigheid
en U beweging in en om my.
Amen
Thomas Keating – vry vertaal
Die welkomgebed is egter veel meer as ‘n paar woorde op papier wat jy kan memoriseer vir wanneer jy dit nodig kry; dis ‘n hele manier van wees en die enigste manier hoe Paulus se onbegonne opdrag “Bid sonder ophou” uitgevoer kan word. Dis grootliks geskoei op Thomas Keating se werk en Jean-Pierre de Caussade se boek Abandonment to Divine Providence. Dit spreek die waardes van ons vals self se sisteme (ons innerlike geluksprogramme) aan op bewustelike sowel as onbewustelike vlakke. Dit nooi ons uit om ons geloof van die papier af te kry en in die gesig te staar op watter wyses ons eintlik praktiese ateïste is. Ons sê ons glo in God en verwar geloof, wat eintlik vertroue beteken, met ‘n credo. Ons loop die geestelike reis met wat Teresa van Avila die een fatale flater genoem het: ons soek God asof Hy afwesig is. Oorgawe is om jou deel te doen en die res oor te laat aan God. Oorgawe is nie passief nie; Cynthia Bourgeault noem dit “the active exercise of a receptive power”. Sy beskryf dit as ons bootcamp in Getsemané, soos ons in Luk. 22 lees. Jesus was totaal en al bewus van sy omstandighede en sy ervaring. Hy het dit nie weggetoor of uitgedryf nie of gesê “Ruk jou reg, come on – jy's Jesus” nie; Hy het dit beleef. Die Bybel sê sy sweet was soos bloeddruppels op die grond. Dis nie omrol en opgee nie; dis oorgee. En waar bewustheid en oorgawe ontmoet, slaan stilte aan die brand, word chaos kosmos, word die woord vlees, skeur tempelhange, liefde giet Homself uit om meer liefde te word …
En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan gooi, en neergekniel en gebid
en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!
En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.
Die welkomgebed as daaglikse (of eerder oomblikse) oefening wys ons hoe die kloof lyk tussen ons intensies en ons aksies. Ek sou, selfs al het Paulus nooit hierdie woorde geskryf in die Bybel nie, steeds elke dag sê: “Ek verstaan nie myself nie. Hoe het ek dit dan my dat ek dit wat ek wil doen, nie doen nie en dit wat ek nie wil doen nie, gaan staan en doen ek!?” Dit wys ons hoe ons onbewustelike motiewe eintlik aan die stuur van sake is en dit bevry hierdie energie (want let’s face it: om vas te klou, vat ontsaglik baie energie) van verknogtheid en inspanning vir God se werk: Liefde.
“The symphony of life moves on but you keep looking back, clinging to a few bars of the melody, blocking your ears to the rest of the music, thereby producing disharmony and conflict between what life is offering you and what you are clinging to. Then comes the tension and anxiety which are the very death of love and the joyful freedom that love brings. For love and freedom are only found when one enjoys each note as it arises, then allows it to go, so as to be fully receptive to the notes that follow.”
Anthony de Mello
Die welkomgebed is van toepassing op OMstandighede en (dikwels moeiliker) INstandighede:
“In any situation in life, confronted by an outer threat or opportunity, you can notice yourself responding inwardly in one of two ways: Either you will brace, harden and resist, or you will soften, open and yield.”
Cynthia Bourgeault
My vuil, my stank wil ek uit my hê.
Jaag dit nie weg nie: weg kom terug –
Neem dit in U op, Grond van my wese;
verwerk dit, versoet dit tot kraakvars lewe.
Aarde waarin alles wat boos is vergaan,
verpulwer my fyn, verander my grondig
tot stof waaruit ek opnuut kan kiem,
kan verrys met my beste in my behou,
eindelik myself, myself in U!
Sheila Cussons
Welkom word later dan nie meer iets wat jy sê of doen nie, dit word wie jy is, wat jy heet, die wese van jou naam. Dis my diepste begeerte: om so te kan aandag skenk, om so te kan laat gaan, om so te kan oorgee aan God dat my naam klink soos “Welkom”.
This being human is a guest house, every morning a new arrival. A joy, a depression, a meanness, some momentary awareness comes as an unexpected visitor. Welcome and entertain them all. Even if they're a crowd of sorrows who violently sweep your house empty of its furniture, still treat each guest honourably, each may be clearing you out for some new delight. The dark thought, the shame, the malice, meet them all at the door laughing, and invite them in. Be grateful for whoever comes, because each has been sent as a guide from God.
Rumi
Ons gaan Sondag in meer diepte gesels oor die praktiese stappe van hierdie gebed en hoe dit in jou daaglikse lewe gestalte kan kry. Gaan lees gerus ook op ons webwerf meer oor die verwelkomingsgebed.
Ons dien die beste gas-Heer. Ons Lent-reis neem ons nou baie vinnig na die tyd van lyding en in sy grootste nood:
In stillness nailed
to hold all time
all change
all circumstance
in and to Love’s embrace
- Frieda van den Heever