top of page

Jy skitter in jou afwesigheid



Van Kersfees tot Mei

in desember

is Jesus weer gebore

en hulle het Hom toegedraai

in geskenkpapier

en Hom neergelê

in die supermark


ek het ’n boom versier

met liggies en engeltjies

en Hom uitgenooi

na ’n kersfeesmaal

van kalkoen en wyn

maar Hy het weggevlug

na die woestyn


Goeie Vrydag was ’n pasga

sonder bitter kruie en

ongesuurde brood

voor die langnaweek se uittog

op Paasmaandag

is die opstanding uit die dood

feestelik gevier

met paashasies en paaseiers

in blinkpapier

Hemelvaart

was die eerste vakansiedag

in Mei

waarop ons kon dam toe ry

Eveleen Castelyn (Tussen hemel en aarde, 1978)



Hemelvaart is nie meer 'n vakansiedag nie. Dis nou net nog 'n Donderdag. Op die kalender. Maar wat beteken dit vir jou? Vir my? Is dit een van daai dae wat ons as Christene net gerieflikheidshalwe ignoreer, saam met almal anders, want regtig ... opvaar? Ons is mos darem bottom line, empiriese Christene - rasioneel en selfs wetenskaplik - ons het nie tyd vir bygelowigheid nie so ons hop eerder oor hierdie Sondag en eerskomende Donderdag sonder om te veel daaroor te dink want dis so effe mumbo jumbo en ons wil eintlik net weet hoe ons geloof ons kan help in ons alledaagse lewe. Protestante doen nie Hemelvaartsondag baie goed nie. Die gevaar is dat ons obsessie met feite (en kom ons staar dit in die gesig: na NASA se ruimteprogramme WEET ons die hemel is nie OP nie, so wat probeer die Skrif sê?)ons verblind vir God se lewende teenwoordigheid in die groter prentjie.


Richard Rohr gebruik hierdie beeld vir Hemelvaart: "Absence creates a God-sized hole within us."


'n Godgrootte gat. Jesus se afwesigheid en 'n nuwe teenwoordigheid loop hand aan hand. Eintlik hart aan hart. Die hemel en die aarde is verenig. God en mens. Mens en mens. En so bly hy skitter in sy afwesigheid.

Hemelvaart (vir Willie) ’n Gedig deur Helgard Pretorius

Beter sal dit vir ons wees wanneer jy nie meer hier is nie. Dit wou ek nie glo nie. Jy skitter in jou afwesigheid

Die een wat in jou plek sou kom, wat is asof nie; hoe kon dit ooit genoeg wees? Jy skitter in jou afwesigheid

En die vreugde wat na die pyn sou kom; wanneer kan ons dit verwag? Jy skitter in jou afwesigheid

Terwyl ek wag begin ek maar – Hoe sê jy? Ja, by die minste. Jy skitter in jou afwesigheid

Hier is ander wat ook wag so ons wag maar saam; hoe voel dit om weer ’n lyf te hê? Jy skitter in jou afwesigheid

Ai, ek wens jy kon sien wat ons alles doen. Jy sou dit gesmaak het. Jy skitter in jou afwesigheid


Die Koninkryk van God is altyd nou ("at hand") en hier (binne-in en tussenin ons) én tog ook altyd nog nie sodat ons bly hunker na die Huis. Sodat ons Christus se lewende teenwoordigheid bly soek onder mekaar. In LIEFDE en EENHEID ... sodat alles wat skei, verdwyn.

Hierdie fees sonder 'n vakansiedag om dit te vier, merk Jesus se vertrek, maar ook sy vervulling van alle dinge: die hele skepping is deurdrenk met die Teenwoordigheid van Christus. As jy soek na Christus, soek in jou eie hart en bene sowel as in dié van alle skepsels en die aarde self. Hemelvaart is 'n reünie! Van Hemel en Aarde, mens en God, materie en Gees. Mag hy skitter in Sy afwesigheid.



- Deur Frieda van den Heever

bottom of page