Liefde kom na ons toe soos ‘n muntstuk. Naas die feit dat dit die duurste en kosbaarste besitting is, is daar ‘n kop en ook ‘n stert. Voor kry jy die kop, wat gesond maak, en agter die stert, wat seermaak. Kupido die Romeinse god van liefde het nie net engelvlerkies nie, maar ook ‘n pyl en boog.
Onskuldig, maar ook gevaarlik.
Noem maar elke familie in die Bybel op, dan word jy voorgestel aan hierdie twee gesigte. Dink maar aan Josef. Hy is sy pa se liefling seun, en kry voorkeurliefde bo sy boeties. Op ‘n dag droom hy word koning vertel dit aan sy boeties en hulle gooi hom in ‘n put. Hoekom doen hulle dit? Want hulle is slagoffers van die stert van liefde. Hulle wond laat hulle oorreageer. Die wond is ‘n pa wat hulle minder liefhet as hulle boetie, Josef. Hulle ma, Lea, was ook nie die pa se keuse van liefde nie. Ragel was Josef se ma en die een vir wie Jakob weer lief was.
Die wond is universeël.
Ons almal ontmoet die stert deur ‘n Jakob-liefde, wat ons herinner dat dié liefde ons eerder verraai, omdat ons nie goed genoeg is nie. Die profeet Jeremia diagnoseer Israel met ‘n kollektiewe wond van liefde wat hy vergelyk met die owerspel van 'n vrou en dan roep hy uit: “My volk se wonde is ook my wonde, ek is in die rou, deur angs oorweldig. Is daar nie balsem in Gilead nie? Is daar nie 'n dokter nie? Waarom het my volk nie gesond geword nie?” - Jeremia 8:21. Toevallig is Gilead die bergreeks waar Josef deur sy broers as slaaf verkoop is.
Wanneer ons fisiese, morele en psigologiese grense vergruis word, dra ons pyn ‘n storie wat ‘n gevaarlike klankbord word.
Dan het jy ‘n dokter nodig met die beste salf wat liefde kan gee: Vergifnis.
Kuier saam 8:30 of 9:30 op Youtube of Facebook. Julle kan die programme ook later kyk. Onthou dat 9:30 ook Sondagskool het, en iets vir ons tieners!
Liefdegroete
Theo