top of page

Jy Is Wat Jy Liefhet: Goed


'n Dissipel vra sy Rabbi: "Hoe weet ek dat ek materialisties is?" Die Rabbi antwoord: "Gaan staan by die groot ruit en kyk na buite. Wat sien jy?" Die dissipel antwoord: "'n Parkie en kinders wat speel." Die Rabbi neem toe 'n klein silwer spieëltjie en hou dit voor die groot ruit en vra: "Wat sien jy nou?" En hy antwoord: "Myself." Die Rabbi sê vir hom: "Die dag wanneer jy nie meer die gras en kinders kan sien nie, maar net jouself in die silwer spieëltjie, moet jy weet jy het dít!”

Jesus het geleer dat materialisme soos 'n dwelm met vernietigende mag is. Die mag is nie een of ander Hilter-sindroom nie, maar 'n mag wat jou blind maak! Die Rabbi is reg - dit gaan oor hoe ons sien. Wanneer Jesus oor geld en materialisme praat dan sê hy: “Die lamp van die liggaam is die oog, as die oog reg is, is die hele liggaam verlig." Matt 6:19-24.

Net soos wat die oog lig in 'n kamer gebruik om die liggaam te navigeer, navigeer alles waarna ons kyk ons hart. Ongelukkig sit materialisme vas aan die lig. “As die lig in jou donker is, hoe groot is die donkerheid nie!” Daardie donker kan ons nie sien nie, en verwar dit met lig, net soos wat die Ryk man nie die bedelaar elke dag voor sy huis kon raaksien nie.

Ons gesels Sondag oor hierdie “klein spieëltjies” wat soms God se wêreld besteel en ons weerhou om ware sekuriteit, aanvaarding en geluk eerder in God te kry.


- Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page