Jou hart het ‘n wagwoord
- inviagemeente
- 29 minutes ago
- 2 min read

Charles Taylor beskryf ons huidige kultuur as ’n “disenchanted world” – ’n wêreld waarin ons nie meer betower word nie. ’n Wêreld waar wetenskap, rasionaliteit en ekonomiese wins die plek ingeneem het van misterie en die heilige. Waar alles uiteindelik herlei word tot chemiese reaksies en neurale impulse.
Geen engele nie.
Geen demone nie.
Net wat ons kan meet. Ons innerlike lewe is “gebuffer” – afgesluit teen enige werklikheid buite onsself. Ateïsme en agnostisisme word maklike opsies.
Ek en Wilma en Lucca het verlede week die nuwe Avatar gaan kyk. Die film kan verstaan word as ’n reaksie teen hierdie verlies. Vergewe my as jy dit nie gesien het nie, maar een van hoofkarakters, Jake Sully se avatar-liggaam is ’n tussenvorm – nie heeltemal mens nie, nie heeltemal Na’vi nie. Jake is verlam, afgesny van die wêreld. Hy simboliseer die moderne mens: funksioneel, tegnologies vaardig, maar innerlik afgesluit. Deur die avatar kan hy weer voel – nie net fisies nie, maar moreel en spiritueel. Hy word deel van iets groters wat verwondering bring.
Hy kyk anders na mense en die wêreld.
Die woorde “I see you” is sentraal. Dit beteken nie bloot om iemand raak te sien nie, maar om die ander se wese, geskiedenis en waardigheid te erken. In ’n hierdie kliniese wêreld waar mense tot rolle, data en funksies gereduseer word, is dit ’n radikale daad van heilige aandag.
In 'n wêreld waarin ons nie meer betower kan word nie is ons probleem nie soseer dat ons leeg of sonder die spirituele leef nie. Ons is beslis nie god-loos nie. Ons is herbetower deur ander gode: geld, status, mag. Dit is al wat ons sien. Die Bybel praat selde oor ateïsme, want die mens kan nie sonder aanbidding leef nie; dit praat eerder oor die afgode wat ons in die donker hoekies van ons harte koester. Soos die Psalm sê: ons word soos die beelde wat ons eer—stom, blind en koud (Ps 115).
Ons afgode is nie standbeelde nie – dis die chaos in ons koppe, die begeertes wat ons beheer: verbruik, status, prestasie. Dis eerder vrae wat Jesus voortdurend, op verskillende maniere, gevra het. Wat steel jou aandag? Wat maak jou angstig as dit bedreig word? Wat laat jou voel jy bestaan? Is jou hoop 'n politieke party? Is jou waarde die erkenning wat jy kry? Is jou sekuriteit jou geld?
Ware betowering begin waar jou afgode eindig. Makliker gestel: Waar jou brein ophou opdragte gee en jy begin luister. Soos ’n bank-app jou rykdom bewaak met ’n wagwoord, so hou jou hart sy skat agter ’n kode. Daar ontdek jy die betowering.
Sondag praat ons oor God se pad wat die hart weer oopmaak vir betowering.
- Theo Geyser




