IN SY ELEMENT: GROND


Ons sluit Sondag ons reeks oor die Heilige Gees af, maar mag ons aanhou leef met hierdie tema! Theo het die afgelope weke gesels oor die gees as water, as wind, as vuur en dit maak vir ons soort van sin (soveel sin soos gees kan maak) dat die Gees vloei, waai, brand, en Sondag wil ek gedagtes met deel oor die Gees as grond. En onmiddellik voel en klink dit te vas, te aards, te naby, te hier, te veel soos ... ons.

Maar as Paulus in Gal. 5 praat van die vrug van die gees moet dit tog iewers groei. Vrugte hang nie in die lug nie. So die vrug van die gees impliseer grond. Vastigheid.

Grond het iewers in die kerk 'n "bad rap" gekry - Sy naam is deur die modder gesleep.

Eendag nie so lank gelede nie, het gelowiges met baie oortuiging aangedring daarop dat God in die hemel bly, 'n veraf plek van ewige beloning vir die getroues onder ons. Ons bly in 'n drie-verdieping heelal. Hemel is bo waar God bly (heilig) en die wêreld is onder waar ons bly en die onderwêreld waar ons vrees ons heen sal gaan as ons doodgaan. grond is onder (onheilig) en die kerk is die heilige hysbak tussen die aarde en die hemel wat God gebruik om goddelike boodskappe te stuur en as ons dit gehoorsaam waar ons kan inklim om die boonste verdieping te haal en te ontkom van die grondvloer.

Maar tans leef ons in 'n teologies afgeplatte wêreld - ons het nou agtergekom ons is meer as kapabel om die terreur en boosheid van die hel net hierso te skep en ons het nie meer 'n vagevuur en 'n gekners van tande nodig om te besef dat die bose bestaan nie.

Diana Butler Bass vra die vraag in haar boek "Grounded": Is daar 'n ander opsie behalwe fundamentalisme en 'n dooie God? Dan sê sy: "I think so. If hell has moved in next door to us, perhaps heaven has as well." "Waar is God?" Hierdie vraag en veral hoe dit beantwoord word dui op 'n verrassende geestelike rewolusie. Dis een van die mees gewigtige vrae van ons tyd. Ons gaan in ons volgende reeks wandel met hierdie vraag, want daar's niks so sleg as om aan die slaap te wees tydens 'n rewolusie nie, né. Die rewolusie dui op 'n baie anderse geestelike moontlikheid: God is met ons. Soos Bonhoeffer gesê het: Only a suffering God can help. En Butler Bass se grondverskuiwende boodskap: To relocate God is to reground our lives.

God word in Genesis in 'n tuin, as die Groot Tuinier, uitgebeeld. Sy Seun vertel die heeltyd gelykenisse van sade, landskappe en koringkorrels. Soos hierdie meer moderne weergawe, wat ek net vertaal het:

Akkerologie

Eendag, nie so lank lank gelede nie, was daar ’n koninkryk van akkers aan die voet van ’n groot ou eikeboom. Hulle was ten volle verwesterde akkers - heel modern - besig, met doelgerigte energie. “Mid-life, “baby-boomer”-akkers, betrokke by ’n hele spul selfhelpkursusses. Daar is seminare aangebied: “Hoe om alles en meer uit jou dop te kry”/ “Getting all you can out of your shell”. Daar was verwondings- en rehabilitasiegroepe vir akkers wat gekneus is in hulle oorspronklike val vanuit die boom. Spa’s om die doppe te olie en blink te vryf en verskeie akkeropatiese terapieë om lewenskwaliteit, welstand en dopelastisiteit te bevorder.

Op ’n dag, in die middel van die koninkryk, verskyn ’n koddige klein vreemdeling, blykbaar uit die bloute laat val deur ’n verbygaande voël. Hy’t nie ’n dopkappie op nie en is vuil. Hy maak ’n negatiewe eerste indruk op sy medeakkers. So, gebuk onder die eikeboom, blaker hy toe aan die ander ’n wilde storie uit. Terwyl hy wys na die boom, sê hy: ONS … IS .. DIT.”

Waansinnigheid, uiteraard”, sê die ander akkers, maar een van hulle gaan tog voort in gesprek met hom. “So, sê vir ons, hoe kan ons daai boom wees of word?” “Wel”, sê hy terwyl hy wys na die grond, “dit het iets te make daarmee om in die grond in te gaan en die dop te laat oopbars.” “Malligheid!” antwoord hulle. “Totaal morbied!!! Hoekom sou ons dit wou doen? Dan sal ons mos nie meer akkers wees nie!”

As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly dit net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in.

Johannes 12:24

Christus het mens geword, in die grond kom val, soos 'n tweede Adam.

Hierdie gedig van Sheila Cussons agtervolg my al my lewe lank, juis omdat dit een van die grootste waarhede van die lewe vir my bevestig nl. dat ons nie kan te bowe kom dit wat ons nie ook insluit nie. "We cannot transcend that which we do not include." Vir ons lyk dit soos vuil, soos stinkgoed, soos ander baie leliker woorde. Vir God lyk dit soos wonderlike kompos wat Hy gebruik om ons al meer mens, meer grondig mens te maak.

My vuil, my stank wil ek uit my hê.

Jaag dit nie weg nie: weg kom terug –

Neem dit in U op, Grond van my wese;

verwerk dit, versoet dit tot kraakvars lewe.

Aarde waarin alles wat boos is vergaan,

verpulwer my fyn, verander my grondig

tot stof waaruit ek opnuut kan kiem,

kan verrys met my beste in my behou,

eindelik myself, myself in U!

Sheila Cussons

Very little grows on jagged rock.

Be ground. Be crumbled,

so wild flowers will come up where you are.

Rumi

Grond is heilig. God loop op hierdie grond.

Here, U deurgrond en ken my…

Deurgrond my, o God, en ken my hart

Ps. 139


Geskryf deur Frieda van den Heever

  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon
  • White Instagram Icon

Stellenbosch:

 

Theo Geyser | Spanleier: InVia Gemeente

 

Wilma Enslin-Geyser | Kids@Invia | Enneagram | Finansies | Kinderhuise

Francois van der Merwe
| Musiek en Kreatiwiteit | Viridis | Tegnologie

Frieda van den Heever | Liturgie | Prediking

Anelle Erasmus | Sekretaresse

Kantoor: inviagemeente@gmail.com021 882 8339

Kaapstad:

Pierre du Plessis | Kampusleraar: Kaapstad

Frieda van den Heever | Liturgie | Prediking

Kantoor: inviakaapstad@gmail.com

Alle regte voorbehou © InVia Gemeente 2020 |  ONDERSTEUN INVIA