top of page

Hoe verkeerd kan jy wees?



Partykeer verbeel ek my hoe die bekende name in die Bybel vir die eerste keer in die hemel ’n eksemplaar van hierdie boek waaroor almal gons in die hande kry. Hulle blaai dan opgewonde na die deel oor hulleself, maar vra dan fronsend: “Is dít wat hulle oor my geskryf het?!”

Tomas is een van daai dissipels wat dikwels onthou word vir dit wat hy klaarblyklik verkeerd gekry het. Ons gebruik immers nou nog die uitdrukking “ongelowige Tomas” na aanleiding van dit wat ons oor hom lees in Johannes. Hoe verkeerd is Tomas nou eintlik hierso? Gaan hierdie gedeelte net oor iemand wat sukkel om te glo? As dit die geval is, is dit seker ook nie so sleg nie. As daar plek is vir so iemand se storie is daar hoop vir my ook. Ek vermoed tog dat dit nie al is wat hierdie gedeelte te sê het nie. Dis maklik om ander op te som op grond van min of meer net dit wat ek van hulle kan sien. Wat sê Jesus vir Tomas? “Gelukkig is dié wat nié gesien het nie en tog glo.” Is daar dalk iets van Tomas wat ék nie gesien het nie wat my iets anders oor hom kan laat glo?


Tomas vra om met sy eie hande aan Jesus se wonde te raak. In vandag se tyd sou dit klink soos iemand wat nie kan glo sonder bewyse nie. Was dit Tomas se fout? Hoekom is dit dan presies wat Jesus voorstel in Lukas 24:38: “Voel aan my en kyk!” Vir ons hedendaagse oë en koppe is so ’n ooglopende teenstelling soms moeilik om te verwerk. Vir eeue was dit egter heel gewoon. So iets sou eerder ’n leidraad wees, selfs ’n waarskuwing, om nie net by die verklaring wat op die oog af logies lyk vas te steek nie. ’n Ander “Tomas” het ook iets hiervan gesnap: We are not wholly bad or good

Who live our lives under Milk Wood,

And Thou, I know, wilt be the first

To see our best side, not our worst.

– Dylan Thomas

Sondag kyk ek deur die oë van nog so paar Tomasse om te probeer raaksien wat ek maklik by Tomas miskyk.



- Deur Deon Meiring

bottom of page