top of page

Hoe lyk die pad na reinheid?


Ons gesels Sondag oor Jesus se woorde: “Salig is die wat rein is van hart, want hulle sal God sien.” Wat beteken dit reinheid? Wat beteken dit om God te sien? Ons het reinheid ongelukkig beperk tot ’n moralistiese verstaan en om God te sien beperk tot ’n hemel-resep of ’n hiernamaalsbelofte.


Ons kyk Sondag na die eerste bekeringsverhale van Johannes, omdat hy jou wil help om te verstaan wat dit beteken om rein te wees en wat dit beteken om God te sien. Dit is die verhaal van Nataniel. Hy word uitgenooi deur Filippus met hierdie woorde na Jesus toe: “Kom kyk.


En dan verander sy hele lewe. Want Jesus help hom om te verstaan dat dit nie regtig is hoe ons na God kyk, en ons soeke na God, wat ons lewe ten diepste raak nie, maar dit is eerder God se soeke en se kyk na ons. Want Jesus sê vir hom: “Ek het jou lankal sien sit onder die vyeboom en jy’s ’n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.


So enige Jood wie na hierdie storie luister sal weet hier praat hy van Jakob, want dis waar die volk Israel vandaan kom. En Jakob se storie was dat hy letterlik ’n ander naam gebruik het om God se guns te kry.


Die mooiste beskrywing van reinheid is wanneer ons so kan lewe, wanneer ons uit ons eie ware diepste geskapenheid kan lewe. En hoe sal dit wees en wat kan ons doen om op daardie plek en op daardie manier voor God te wees. Want om God te sien - dit beteken immers nie dat Hy ’n objek is wat ons raak kan sien nie. Om iemand te sien beteken bloot nabyheid. Dis naby genoeg. Ek kan hom sien. En met God is dit dieselfde.

Hoe sal dit wees wanneer ons God se nabyheid die diepste kan beleef? Dan is die uitnodiging hierdie gedeelte: met watter naam, met watter identiteit, kom ek na God toe?


- Deur Theo Geyser

bottom of page