top of page

Hoe luister ek?



Die verkiesing kruip nou nader en ons moet stem. Al die politieke partye besoek ook nou die groot kerke om voorbidding te vra vir die verkiesing (en vergewe my agterdog, en ook stemme te werf by Christene…)


Ons is nogals skugter wanneer dit kom om geestelike leiding te gee wanneer daar politieke sake ter tafel is. In die VSA is dit heel anders. Seks, kerk en politiek is natuurlike braaivleis-geselsies.


Op 19 Maart 2003 was ek in die VSA toe George Bush Irak binne geval het. Ek het die eerste Sondag oggend na die inval in ‘n kerk gepreek waar daar ‘n profesie was dat God die oorlog teen die bose vyand lei en die VSA wat op die beginsels van die Christendom gebou is, die oorlog sal wen. My hart het gebloei vir die 200 000 soldate wat gestuur is na hierdie massaslagting. Die aand het ek in ‘n kerk gepreek waar die pastoor ook ‘n woord van die Here gekry het dat die oorlog boos is, en die Here dit nie wil hê nie. Die hele gemeente het protesgebede gebid en George Bush na ‘n warm plek toe gestuur.


Jy kry die punt wat ek wil maak. 


Die meeste leiding wat ons soms van God ontvang is slegs ‘n bevestiging van dit wat ons reeds glo. En hoe handig is dit nie om ‘n Bybelvers of God in jou eie planne en idees te gebruik nie! Dallas Willard sê dit mooi: 


“We live at the mercy of our ideas. This is never more true than with our ideas about God. Meaning well is not enough. Those who operate on the wrong information are likely never to know the reality of God’s presence in the decisions which shape their lives and will miss the constant divine companionship for which their souls were made.” 


Ons gesels Sondag hoe ons idees oor God ons kan keer, of help om na God te luister. Die goeie nuus is dat God wil praat en Jesus het belowe dat sy skape sal leer om sy stem te hoor, want dit is hoe hulle gaan volg (Joh 10:27-30). God praat, en gelukkig nie nou-en-dan, of af-en-toe nie, maar aanmekaar, aanhoudend en elke oomblik met elke asemteug. 


“Die God van die gode, die Here, spreek en roep die aarde, van die opgang van die son af tot sy ondergang toe.” Ps. 50:1


Jy is soos ‘n radio. Die klankgolwe of God se stem is klaar daar, ons moet net leer om in te skakel. 



Deur Theo Geyser






Comments


bottom of page