top of page

Hoe loop ek in die donker? Voel die aarde!


Ons kan ons pad in die donker vind deur vas te hou aan Moeder Aarde. Ongelukkig het pille en duur terapeute die eerste opsie geword vir bevoorregte mense om sin te maak in donker tye. En, natuurlik dien medikasie en mense ’n doel, maar nooit ten koste van die uitnodiging wat God ook vir ons het om Hom te vertrou en leiding by Hom te soek!

Moses moes dit leer. Selfs gebed het ‘n nuwe betekenis gekry in sy soeke na God. Hy moes tevrede wees met ‘n wolk en kon net God se rug sien. Maar dit keer hom nie om met die min-weet en die wolk die onsekerheid of donker in te loop nie.

Hy is op pad Kanaan toe met bitter min antwoorde waarvoor hy gevra het.

Waaraan hou hy vas? Aan die natuur - hy onthou immers sy eerste roeping by die Braambos! Dit is waar hy God ontmoet. Daar gebeur 42 wonderwerke in die wildernis. En raai wat? Slange, sprinkane, water, vuur, duisternis, manna, kwartels en noem maar op, God besoek hom en Israel deur die natuur!

Dit sou nie vreemd wees nie, want Jode het nie ‘n Bybel daardie tyd gehad nie, en het geluister hoe God deur die natuur praat. Die natuur “verkondig” Ps 19:2. Dit beteken bloot dat jy moet luister na die preek!

In Job se donkerste tyd is diere en die natuur deurslaggewend om sin te maak uit sy lyding. God skroom ook nie om hom hierdie raad te gee nie: “But ask the animals, and they will teach you, or the birds in the sky, and they will tell you; or speak to the earth, and it will teach you, or let the fish in the sea inform you. Which of all these does not know that the hand of the Lord has done this? In his hand is the life of every creature and the breath of all mankind.” (Job 12:7-10)

Jesus sou sekerlik in so verstaan van God baie gemaklik gewees het. In sy donkerste tyd waar hy bloed sweet, is Hy nie in die tempel of rehabilitasie kliniek nie, maar in Getsemane. Hy leef in, en bid met die natuur en vra ons om na voëls te kyk, en op te let hoe lelies lyk, wat saad beteken, en Hy wys hoe afsondering in die natuur ons pad met God kan versterk.

Ons gesels Sondag oor hierdie ongelooflike uitnodiging!

Hier is solank ‘n geloofsgewoonte wat jy kan beoefen:

Geloofsgewoonte: Bid met die Skepping

Gaan sit êrens still.

Raak bewus van alles om jou – die geluide, klanke, stiltes, krake, teksture, lig, donker, plantes, bome.

Raak nou bewus van wat jy voel.

Neem jou gedagtes nou na dit wat jy nie kan sien nie wat ook teenwoordig is. Radiogolwe, selfoongesprekke, suurstof en wat nou by jou opkom.

Raak nou bewus van God se Gees wat teenwoordig is nog voordat jy daar was.

Bid nou: “Jesus ek weet U is nou by my”. Vra Jesus nou in jou eie woorde om jou te lei.

Neem nou een voorwerp wat jy gesien in die natuur waarmee jy gemaklik is, en fokus op dit wat jou oog eerste “gevang” het.

Fokus nou op die res.

Kyk na die tekstuur, patrone, vorm, kontratse, beweging…gebruik ook jou ander sintuie om te ruik, of om iets aan te raak.

Watter woorde kom by om op om dit te beskryf?

Verbeel jou jy is ‘n gedeelte van dit waarna jy kyk. Waar vind jy rus of voel jy gemaklik mee? Hoe voel dit om in daardie gedeelte van die natuur te “reis”?

Bly by dit wat jou die meeste raak.

Praat nou met God en probeer dit wat nou by jou opkom te verwoord. Probeer om na God te luister.

Sluit af met ‘n amen. Dit betekn “Laat dit so wees!”

Neem later ‘n tyd om oor jou gebed te reflekteer, dalk sommer met ‘n koffie of tee waar jy rustig kan sit en dink.

Vra die volgende vrae:

Wat bly by jou terwyl jy dink oor jou gebed?

Waarvoor wil jy dankie sê?

Wat trek my na God deur die natuur en hoe reageer ek daarop?

Wat moet ek neerskryf of dalk teken in my joernaal wat belangrik is?


- Geskryf deur Theo Geyser

bottom of page